MOEG vir stilsit.
Karla Stumpf (18), ’n Suid-Afrikaanse junior bergfiets-ryer, en Richard Janse van Rensburg (15), ’n kranige atlleet, het die afgelope naweek tallose kilometers op hul fietse afgelê om geld vir liefdadigheid in te samel.
’n Moeilike uitdaging – ook innerlik – maar elke trap van die pedaal was die moeite werd.
Stumpf, ’n graad 12-leerder by die Helpmekaar Kollege wou graag iets aanpak wat ’n verskil maak.
Wat is nou beter as bergfietsry – al is dit al in die rondte.
Sy het Janse van Rensburg, ’n graad 10-leerder die Global Leadership Academy (GLA) oortuig dat dié soort avontuur perfek is vir hom. Al is dit die eerste keer dat hy sy voete in ‘fietsskoene’ sou inklik.
Daar is net een reël: hulle moet vir ’n minimun van ses ure op ’n 300m-roete ry. Al in die rondte en op-en-af oor trappe, plaveisel, gras en seesand.
So gesê, so gedaan.
Gewapen met ’n fietsryhelm en tonne deursettingsvermoë, het dié passievolle twee-manskap op Saterdag, 25 April om 11:00 die wegspringblokke by Villa Delfini in Da Ga-maweg, Jeffreysbaai verlaat.
Janse van Rensburg was op ’n geleende fiets.
Die moeilikste van die uitdaging?
Kophou gedurende die uitdaging vir Janse van Rensburg, terwyl aanhou trap na die eerste uur vir Stumpf moeilik was.
Maar moed opgee was nie ’n opsie nie – ten spyte van rug- en nekpyn.
Stumpf en Janse van Rensburg, wat onderskeidelik 73km en 70.7km kafgetrap het, het R12 888 vir die Solidariteitsfonds ingesamel.
Nóg fietsryers
Tiaan Muller (28), ’n onderwyser by die Laerskool Stulting in Humansdorp, het op Saterdag, 25 April die speke laat sing toe hy die 230km Trans-Baviaans Lockdown-uitdaging vir liefdadigheid aangepak het.
Hy het dié uitdaging in ’n tyd van 15:24:00 ten bate van die NG Kerk, Humansdorp se kospakkie-projek getrap.
“Baie dankie aan almal wat geld of kos geskenk het, asook diegene wat my op die dag ondersteun het,” sê hy.
Fanie Vermaak en sy gesin, vrou Hanlie en seun Dawid, het die Trans-Baviaans Lockdown-uitdaging ten bate van The JBay Animal Rescue Sanctuary en the Ladies Lighthouse aangedurf.
Hulle het dié uitdaging as ’n span in 10:07:49 voltooi.