DIE Kouga Konstruksie Forum is op die been gebring om die kontrakteurs van voorheen benadeelde gemeenskappe te ont-wikkel en by te staan.
Hierdie nie-winsgewende maatskappy is verlede jaar ge-stig en bestaan uit ’n ledetal van 75 kontrakteurs.
Dié kontrakteurs verskaf werk op ’n permanente basis aan minstens 1 125 werkers, wat bestaan uit plaaslike ambagsmanne.
Die gevolg is, onder meer, die voorsiening van voedsel aan ongeveer 6 750 persone in die gemeenskappe.
Volgens die woordvoerder van die Kouga Konstruksie Forum (KKF), Walton Novem, is die forum gebaseer in die Kruisfontein, Humansdorp omgewing.
“Die sosio-ekonomiese omstandighede in dié omgewing sluit in misdaad, geweld en werkloosheid veral onder die jeug.
“Dit het die ouers genoodsaak om iets te doen aan die situasie. Die vernaamste doelwitte van die organisasie sluit in die bevordering van werkskepping vir kontrakteurs, opleiding van vakmanne, bestuursopleiding, asook die voorsiening van administratiewe funksies, boekhouding en rekeningkundige dienste en regsdienste,” het Novem verduidelik.
Volgens hom is dit die eerste keer dat so ’n wye veld van kundiges saamgekom het met een gemeenskaplike doel voor oë.
“Die uitvoerende span is verantwoordelik vir die algemene bestuursfunksie. Hulle word ondersteun deur ’n adviserende span bekwame, toegewyde kundiges wat bestaan uit ’n siviele ingenieur, elektriese ingenieur, mariene ingenieur, argitek, prokureur asook ’n bankier,” het Novem gesê.
Die uitvoerende bestuurspan is onder andere, Angus Bruiners, Daniel Barendse, Walton Novem en Gavin Seffier.
Die adviserende bestuurslede is Lluwelyn Kammies, Mario Erasmus, Angelo Cherry, Curtis Fleur en René Jansen.
“Ons dienste sluit onder meer algemene konstruksie-werk, padbou-dienste, aanlê van pype asook elektriese installasies in,” het Novem gesê.
Instansies of individue wat meer inligting benodig kan Walton Novem kontak by 076 579 1116 of per e-pos by cohen.novem@gmail.com.