SKENKINGS van kos word dring-end benodig in Kouga, waar honderde inwoners tydens die grendelstaat geen kos – of hoop – het nie.
Vars groente, vrugte, soja, maalvleis, rys, aartappels, pasta, olie, meel, suurdeeg, blikkieskos, koffie, suiker en sout is in aanvraag by die nuutgestigde Gamtoos Donasies-voedingskema.
Inwoners in nood word met die hulp van gemeenskapsleiers en nie-winsgewende organisasies geïdentifiseer.
Ondersoek word ingestel om vas te stel of die spesifieke persoon of familie regtig hulp nodig het.
Kleur, ouderdom en klas tel nie. As die skema ’n oproep kry, maak hulle ’n kospakkie bymekaar, ry na die huis en gee die kos.
Met liefde.
Volgens die organisasie is die nood baie hoog – en nie almal vra hulp nie. “’n Mens weet nie altyd hóé erg dit is tot jy vra nie. Dan hoor jy eers hoe groot die nood is.
“En elke dag vra meer mense hulp.”
Skenkings aan die mense van Kouga kan hier afgelaai word: Smhart-sekuriteit in Patensie of Jeffreysbaai, asook by Anneli Young in Hankey (062 565 3827) Kouga Safety Alliance en Foodzone in Patensie.
Die insameling en verspreiding van die skenkings en kospakkies word in ooreenstemming met die inperkingsregulasies gedoen.
Vir meer inligting, skakel 083 226 7579 (Erika) of 072 312 5747 (Dave). Besoek die Gamtoos Donasies Facebook-blad.