Gamtoosvallei-besproeiingsboere sal waarskynlik vir die vierde agtereenvolgende seisoen ’n beperkte watertoekenning ontvang.
Die nuwe waterjaar begin op 1 Julie vanjaar en duur tot 30 Junie 2021. Die nuwe toekenning sal waarskynlik in Junie bekendgemaak word.
Of die Gamtoosvallei steeds as die spens van die Oos-Kaap bekend sal staan, sal daarvan afhang of daar enige bruikbare water sal wees, sê Petrus (Spes) du Preez, voorsitter van die Gamtoos-landbouvereniging.
“Dit sal vanjaar maar broekskeur gaan om daardie naam gestand te doen.”
Hy het vroeër aan Die Burger gesê die Gamtoosvallei is tans 0,4% beter af as twee jaar gelede. Op 14 Mei 2018 was die Kougadam se vlak ’n skamele 9,4% en op 15 Mei vanjaar net 9,8%.
“Op 19 Desember verlede jaar het die Kougadam se vlak op 29,16% gestaan. Realisties, sonder enige verdere inloop, was daar minder as 100 dae se water beskikbaar vir gebruik nadat dit op 11 Desember 2018 ná goeie reëns op 55,1% gestaan het,” sê Du Preez.
Alternatiewe raak egter al hoe minder, sê hy. Behalwe om te glo, en desperate boor-pogings vir water, bly baie min ander opsies oor.
“Ons glo egter dat ons weer goeie laatwinter-en-lentereëns kan kry. Dit raak koeler en besproeiingsbehoeftes verminder, maar ons het steeds water nodig.” Die toekenning van beperkte kwotas, geldig vanaf 1 Julie 2019 tot 30 Junie vanjaar, is in dieselfde verhouding as met ’n vol dam. Met vorige droogtebeperkings was die verhouding ten gunste van die munisipaliteite.
“Dit is nie die geval met beperkings tans nie. Ons waterverbruik gaan waarskynlik vir ’n vierde agtereenvolgende periode beperk moet word, as daar enigsins bruikbare water gaan wees,” sê Du Preez.
Hy sê die landboubedryf in die Gamtoosvallei het geen alternatiewe waterbron nie.
Die Nelson Mandela-metro het egter ’n redelik versekerde bron in die Gariepdam deur die Nooitgedacht-skema.
“Ons het ons water so goed moontlik bestuur en bewaar vir die afgelope 11 maande en genadiglik behoort ons die groter deel van die 2020-sitrusoes deur te haal as die weer saamspeel en die lastige Julie-Augustus-noordewinde ons genadig is.”
Groenteproduksie vir winteraanplantings is ’n ander uitdaging aangesien dit kortseisoengewasse is met weeklikse besproeiingsbehoeftes. Groente het groter blootstelling as ander gewasse en sonbrand is ’n groot faktor, wat ook die gehalte en bemarkbaarheid van hierdie gewasse negatief raak.
Volgens Du Preez is die meeste Oos-Kaapse veeboere onder groot finansiële druk. Die meeste het in ’n kontantvloei-begroting voorsien vir voeraankope en veevermindering toegepas, “maar dié droogte hou net eenvou-dig te lank aan”.