Noudat die derde golf COVID-19 gevalle in ons midde is, sowel as die normale griepseisoen, is dit beklangriker as ooit om vir ons liggame te sorg. Dit maak nie saak hoe oud of jonk jy is nie, met ’n gesonde immuunstelsel het jy net eenvoudig ’n beter kans om spoedig te herstel van virale en bakteriële infeksies. JOANÉ AZENHA, in samewerking met Lunel Botha, ‘n dieëetkundige van Jeffreysbaai, het ’n lys van kosse en twee resepte saamgestel wat jou immuunstelsel gedurende hierdie winter ’n hupstoot sal gee.

  • Lunél het uitgelig dat die gesondheid van ons spysverteringstelsels baie te doen het met ons liggaam se vermoë om infeksies af te weer. Onthou dus die belangrikheid van gefermenteerde kosse wat ryk is in probiotika soos jogurt, kombucha, melk- of waterkefir in jou dieet.
  • Goeie ou vitamien C is belangrik, maar dis nie nét in sitrusvrugte te vinde nie. Soetrissies, broccoli, aarbeie, aartappels, patats, spinasie en tamaties is ook uitstekende bronne van vitamien C.
  • Sink is baie belangrik vir ’n gesonde immuunstelsel en kan ook die genesing van wonde versnel en duur van verkoues verkort. Sink is gelukkig in baie voedselsoorte te vinde, wat wit- en rooivleis, volgrane soos hawermout, quinoa, bruin rys, lensies, kekerertjies, pampoensade, eiers, sampioene en suiwelprodukte insluit.
  • Sekere speserye het ’n anti-inflammatoriese uitwerking op die liggaam, soos borrie, kaneel, gemmer en knoffel en word al eeue lank vir hul medisinale eienskappe gebruik.

Hier volg ’n resep wat jou immuunstelsel ’n hupstoot sal gee én jou smaakknoppies laat tintel van lekkerte.

Heerlike hoendersop. Foto’s: Joané Azenha

Heerlike (vinnige) hoendersop

Hierdie resep is perfek vir diegene wat verkoue het.

Dit is nie net ’n ouvroustorie dat dit verkoue beveg nie – van die bestanddele is anti-inflammatories van aard, dit bevat elektroliete, dit is goed vir hidrasie en die hitte en soute kan ’n seer keel dadelik laat beter voel.

Bestanddele:

1 teelepel olyfolie

6 fyngekapte koffelhuisies

1 fyngekapte ui

3 middelslaggrootte wortels, gesny

2 stele seldery, rofweg gekap

1 eetlepel vars gerasperde gemmer (of 1 teelepel gedroogde gemmer)

1 teelepel borrie (turmeric)

600ml hoenderaftreksel

4 hoenderborsies

1 tot 2 takkies vars roosmaryn

1 tot 2 takkies vars tiemie

Sout en swartpeper

1 koppie rou koring (pearl barley)

1 koppie bevrore ertjies

Metode:

1. Verhit die olie in ’n groot kastol op medium-hitte.

2. Voeg die knoffel, ui, wortels en seldery by en braai dit ’n paar minute, tot die ui deurskynend word.

3. Sit nou die gemmer en borrie by. Braai dit vir een minuut, sodat die speserye geabsorbeer word en voeg dan die hoenderaftreksel, hoenderborsies, roosmaryn, tiemie, sout en peper by.

4. Laat die sop kook en roer dan die koring by. Maak seker die hoender is deeglik bedek met die aftreksel. In- dien nie, voeg kookwater by.

5. Verlaag die hitte en laat die sop vir 25 tot 30 minute prut of tot die hoender heeltemal gaar is.

6. Wanneer die hoender gaar is, haal dit uit die pot uit en maak dit met twee vurke fyn in ’n bord.

7. Plaas die fyn hoender terug in die pot en voeg die bevrore ertjies by.

8. Laat die sop vir nog vyf minute prut en bedien dit vars en warm.

Gesonde gladdejantjie (smoothie)

Bestanddele:

Gesonde gladdejantjie.

1 wortel

1 piesang

1 nartjie of kleinerige lemoen

’n Halwe teelepel gedroogde gemmer of ’n opgehoopte teelepel vars gemmer

125 ml lemoensap

50 ml suurlemoensap

’n halwe teelepel borrie

’n kwart teelepel gemmer

125 ml ongegeurde of Griekse jogurt

Ys

Metode:

Plaas al die bogenoemde bestanddele in ’n elektriese menger (blender) en meng tot glad. Drink dit as ontbyt of tussen maaltye.

  • Wenk: Indien jy jou gladdejantjie ’n bietjie soeter verkies, voeg ’n eetlepel heuning by. Rou heuning is propvol antioksidante en het ook antibakteriese eienskappe om jou perdfris en gesond te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.