WILRY Williams (85), ’n bekende en geliefde leier in landboukringe in die Gamtoosvallei, is Sondag oorlede nadat hy ’n week gelede sy kop gestamp en sy bewussyn verloor het.
Williams het sedert die 1950s met groente geboer op die plaas, Die Hoek, aan die oewer van die Gamtoosrivier naby Loerie.
Hy het vir jare in die Gamtoosbesproei- ingsraad gedien, en was vroeër ’n direkteur van die eertydse Peko-markagentskap, ’n koöperatiewe agentskap op die Port Elizabeth se munisipale varsproduktemark wat deur groenteboere self beheer is.
Hy was lank betrokke by die Onder-Gamtoos Boerevereniging, ook as voorsitter.
Williams kon vlot Xhosa praat en was ge-liefd onder die talle plaaswerkers wat oor die jare in sy diens was.
“Wilry was ’n toegewyde gesinsman wat sy Christenskap op elke terrein uitgeleef het,” sê sy jonger broer, Japie, ’n afgetrede dosent in Landbouvoorligting aan die Fort Hare-universiteit.
Hy het op Vrydag, 31 Mei op die plaaswerf gestruikel en sy kop teen ’n klip gestamp. Hy is in die Life St. George-hospitaal in Port Eli-zabeth opgeneem en was vir ’n week in die hoësorgeenheid weens erge bloeding op die brein.
Op Sondagoggend, 9 Junie – ’n dag voor hy 86 sou word – het hy gesterf.
Hy word oorleef deur sy vrou, Rina, ouer broer Hoffie (90), suster Anré, broer Japie, sy kinders William, De Wet, Karin en Francois en 13 kleinkinders.
Die begrafnisdiens is op Vrydag, 14 Junie om 11:00 in die NG Kerk Loerie, en die te-raardebestelling om 09:30 in die familiebegraafplaas op die plaas Bergrivier.