Jo-Ann Walsh van die Hankey Primêre Skool het afgetree na 37 jaar.

Foto: Joané Azeha

Juffrou Jo-Anne Walsh van Hankey Primêr het op 16 November ná 37 jaar as leerkrag haar aftrede met ’n glimlag binne gegaan, alhoewel die trane ook vlak gelê het.

Kouga Express het met haar gesels oor haar jare in die onderwys.

“Ek beskou myself as ’n properse dissiplinêr. Ek glo in ’n ge-sonde leeromgewing waar daar geleer, gehuil, gelag, gesing, ge-speel, gedans en kennis ingewin word. Ek het deur die jare baie hoë eise aan die leerders gestel. Dit het vrugte afgewerp, want ek kon ons leerders met trots na verskeie wiskunde-kompetisies ver-gesel waar hulle teen talle skole vanuit ons distrik kon kompe-teer,” het sy gesê.

Ewe groot, sê sy, was die vreugde en gevoel van vervulling wanneer leerders wat deur haar hande is van ongeletterd na geletterd vorder en nog groter om hierdie leerders hoër grade te sien bereik.

“Ek het huisbesoek gedoen om te sien wat die leerders se omstandighede was. Dit het my dikwels gehelp om die leerders beter te verstaan en ’n verhouding met hulle te bou en empatie te hê met dit wat in hul lewens aangaan. Dit was vir my ongelooflik belangrik om elke leerder as ’n individu te behandel. Elke mens is anders en spesiaal op sy of haar eie manier.”

Hoogtepunte en uitdagings

’n Groot hoogtepunt vir Walsh was om jaarliks die skool se prefekte na hul leierskapskamp te vergesel. “Dit was vir my wonderlik om te sien hoe leerders ontwikkel van skaam en onseker tot volwaardige leiers.”

Sport, veral netbal was haar passie. “Ek het ons dogters elke jaar met trots afgerig en gehelp om nuwe hoogtes te bereik.”

“My hele loopbaan het net om die kinders gewentel. Ons het nie ’n smeltkroes geword nie, maar ’n pragtige mosaiek. Verskillende mense, verskillende oortuigings, verskillende belange, hoop en drome.”

Walsh vertel dat COVID-19 vir haar ’n baie moeilike tyd in die onderwys was. Baie leerders het ouers of familielede verloor aan die siekte. Van die ouers is hospitaal toe en het nie weer teruggekom nie. Dit is deel van onderwysers se pligstaat om leerders te help om emosionele trauma te oorkom, en terselfdertyd na akademiese sukses te laat streef.

“Dit was nie maklik nie, maar ons het deurgedruk. Dit is egter nou tyd vir ’n nuwe hoofstuk in my lewe en om plek te maak vir die nuwe generasie om in te kom.”

Raad aan jong onderwysers

  • Dissipline is belangrik. Jy moet aan leerders ’n hoë standaard voorhou en dit van hulle vereis sodat hulle hoogtes kan bereik wat hulle nie gedink het hulle sou kon nie.
  • Verander negatiwiteit in positiwiteit. Daar sal altyd dinge wees om oor te kla, maar ’n mens moet die dinge gaan uitsoek waarvoor ’n mens kan dankbaar wees.
  • Doen navorsing en bly op hoogte van nuwe verwikkelinge in die onderwys. Moenie stagneer nie. Dit is belangrik dat onderwy-sers groei.
  • Onthou dat elke kind spesiaal en uniek is. Behandel hulle so.
  • Gesels met die leerders en wys vir hulle jy gee om. ’n Sagte woord kry dikwels baie beter resultate as om hard te praat.

You need to be Logged In to leave a comment.