Ds. Marius Louw en sy vrou, Mariana. Foto: Facebook

’n GELIEFDE predikant, ds. Marius Lourens (64) van die NG gemeente Vanstadensrivier, is dood nadat hy twee weke lank in die hospitaal was met COVID-19.

Lourens se dogter Elené Lourens-Botha het Saterdag vertel van hul gesin se hartseer om op so ’n moeilike manier afskeid te neem van haar pa.

“My pa het kortasem geraak en het ál die algemene simptome van die siekte gehad. Hy het regtig nie gedink hy gaan so siek word nie.

“Hy het gedink as hy COVID-19 kry, sal dit iets wees wat hy net kan wegblaas,” sê Elené.

Lourens se vrou, Mariana, het hom twee weke gelede die Vrydagaand na die St. George-hospitaal in Port Elizabeth gebring waar hy dadelik opgeneem is. Vyf dae later is hy verskuif na die hoësorgeenheid. Omdat dit onmoontlik is om pasiënte met COVID-19 te besoek, was dit die laaste keer dat die egpaar naby aan mekaar toegelaat is en hy nog wakker genoeg was om te kon gesels.

Vrydagaand, toe hy op sterwe was, is die gesin toegelaat om hom te gaan groet.

Die egpaar se seun, Jean, oudste dogter, Marlene, en haar man, Christie Germishuys, het met Livestream ook ingeskakel om hul pa te groet.

Lourens was sedert 1987 die predikant van die Vanstadensrivier-gemeente. Hy was ook bekend om sy skilderkuns, later ook beeldhouwerke. Hy het musiekopleiding gehad en was baie lief vir musiek.

Die Lourens-egpaar het die afgelope agt jaar ook die Swan Lake Gardens, ’n trou-venue, asook onthaal-en-piekniekplek, in Theescombe, Port Elizabeth, bedryf.

You need to be Logged In to leave a comment.