Geluk is die klank van enjins

As brandweerman was Nico Gouws (48) gereeld met ’n skroewedraaier of knyptang in die hand te sien – bukkend oor ’n vlamrooi-wa se enjin. Daarom het hy na 28 jaar besluit om sy passie vir voertuie uit te leef, al mis hy soms die loei van die sirene.mo


HY buk laag oor sy groot, bruin les-senaar – oral staan papiere en dokumente in netjiese hope.

Die viltpen tjie-tjie-tjie op die notaboek voor hom, en dan kyk hy op . . . maar wag, die telefoon lui. Tjie-tjie-tjie skryf hy verder.

Kouga-munisipaliteit waarnemen-de vlootbestuurder Nico Gouws (48) sit terug, kyk trots na die wit bord vol blou-en-geel magnete: “Nagenoeg 98% van dié 240 eenhede op die bord – insluitende 200 voertuie, trekkers en sleepwaens – verskaf daagliks noodsaaklike dienslewering aan Kouga-inwoners.

“Hetsy om rommel te verwyder, slaggate te herstel, gras te sny of om die strate skoon te hou.”

Dit was egter nie altyd die geval nie.

In 2016 was slegs 4% van dié vloot in ’n goeie werkende toestand.

Sedert Gouws, die oud-brandweerman, in 2017 as superintendent by die vloot aangesluit het, het hy en sy span vinnig ’n duik in die agterstallige herstelwerk aan die munisipaliteit se voertuie begin maak.

Binne ses maande, van Julie tot Desember 2019, het 18 gehawende voertuie ’n tweede lewe gekry en is aan die diensvloot terugbesorg. Dit sluit in ’n trekkker, twee sanitasie-vragmotors, ’n hidroliese hyskraan, ’n kanteltrok, sewe ligte diensvoertuie, ’n sedan, ’n paneelwa en drie standaardvragmotors. ’n Totaal van 77 voertuie is die afgelope drie jaar opgeknap.

Gouws skryf die sukses toe aan die harde werk van sy getroue span, dissipline en deursettingsvermoë.

“Sonder hulle sou ek dit nooit reggekry het nie.”

Liefde vir voertuie

Maar hoe het ’n brandweerman ’n liefde vir voertuie – veral stukkende voertuie – ontwikkel?

Gouws, wat van kleins af meganies aangelê was, lag: “Ek was nog altyd lief om aan enjins en karre te peuter. Hoewel ek nie ’n opgeleide motorwerktuigkundige is nie, het ek alles by my pa en sommer so by myself geleer.”

Hy het in 1989 as ’n groentjie by die brandweer in Uitenhage aangesluit. ’n Jaar later is hy na die substasie in St. Francisbaai verplaas en het later by die stasie in Humansdorp gewerk.

Hier het hy sy eie klein werkswinkel begin en was verantwoordelik vir die diens en aankoop van voertuie, asook vir die herstel daarvan.

Hy het nooit eens daaraan gedink om sy brandweerpak op te hang nie, maar toe hy in 2017 ’n oproep kry om by die vloot-afdeling van die munisipaliteit aan te sluit, het hy ’n geloofsprong geneem wat sy lewe op meer as een manier verander het.

En al moes hy afstand doen van die adrenalien en die sirene, meen Gouws ’n mens moet nooit te bang of gemaklik wees om ’n uitdaging te aanvaar nie.

Vloot-afdeling

Sy opdrag: om die vloot so gou as moontlik op die pad te kry. Nie ’n maklike taak met ’n gemiddelde vloot-ouderdom van 12 jaar en beperkte fondse nie. Nuwe voertuie was nie ’n opsie nie, en die bestaande voertuie sal nie naastenby genoeg geld by ’n veiling laat inrol nie.

Daar was net een opsie: maak die bestaande voertuie stelselmatig reg.

Gouws glimlag: “Al spandeer ek ’n bietjie meer geld as wat ’n spesifieke voertuig se boekwaarde is, gee daar-die voertuig – wat dalk ’n R100 000 werd is – ons dieselfde waarde in diens as ’n R2.5 miljoen-voertuig.

“Dienslewering gaan voort en die munisipaliteit kan vir nuwe diensvoertuie begroot.”

Volgens Gouws word die ou voertuie stelselmatig uitfaseer. Nage-noeg 40 nuwe voertuie is die afgelope drie jaar aangekoop, insluitend sewe nuwe laaigrawe teen ’n koste van R8.2 miljoen in November, verlede jaar – ’n persoonlike hoogtepunt vir Gouws.

Verdere verbeterings sluit in korter dienstye van voertuie, meer teg-niese personeel, ekstra gereedskap, die aanhou van parte en die verskuiwing van die administratiewe kan-toor na langs die werkswinkel.

Funksies is ook uitgebrei: diens van voertuie, bande, sweiswerk, bou van enjins en ratkasse, meganiese werk, bakwerk en spuitverfwerk.

Voertuigparke in Jeffreysbaai, Humansdorp, St Francisbaai en Hankey is opgerig.

Gouws se geheim vir die nuutgevonde sukses van die vloot-afdeling: harde werk, deursettingsvermoë, wedersydse respek, goeie moraal en die nougesette toepassing van die vlootbeleid. En hare op jou tande.

“Verder het ons die ondersteuning van Kouga-direkteur vir Infra-struktuur en Ingenieurswese, Victor Felton, asook die munisipale bestuurder, Charl du Plessis.”

Gemeenskap dien

Benewens die aankoop, diensopknapping en herstel van voertuie is hy ook die voorraadopnemer, inspekteur en administrateur. Verder is hy verantwoordelik vir die registrasie en lisensiering van voertuie, asook die welstand van werknemers en die kontrole van die vloot en klagtes na-ure. Die aankoop en boekhou van brandstof vir elke voertuig en pompstasie – tussen R800 000 tot R900 000 per maand – gaan deur sy hande.

“Elke dag is ’n uitdaging op sy eie,” sê Gouws.

“Maar ek kry die geleentheid om iets te doen waarvoor ek lief is en ek kan my gemeenskap dien. En dienslewering in Kouga geniet prioriteit.

“So al die harde werk is die moeite werd – ons sukses dra by tot die sukses van die munisipaliteit.”

You need to be Logged In to leave a comment.