TOE die agterdeur oopgaan, tel die energieke honde wat soos elegante wit wolwe lyk, spoed op – reguit stoep toe.
Hulle naels klik-klik-klik op die ou houtvloer. Een vat die draai te vinnig en gly . . .
En dan uit by die voordeur – al stoeiend om eerste te wees. ’n Bondel spierwit hare en uithang-tonge.
Stertswaaiend hardloop een nader en spring bo-op my . . . sy groot oë smeek vir ’n kopkrap. Een spits haar ore. Haar stert waai vinniger en haar nat snoet stamp-stamp aan my hand.
Die ander wag ongeduldig vir hul kopkrap-beurt.
“Rustig nou!” maan gerekende Suid-Afrikaanse hondeteler Henk Schoombie (58) in ’n ferm – maar liefdevolle stem – voor hy oorkant my op die klipstoep van sy kleinhoewe, Nobles of Camelot, in Tweeriviere kom sit.
Die honde gaan lê dadelik – twee is naby genoeg om eerste te wees as nóg aandag uitgedeel word. Die ander lê op die groen gras onder die groot bome.
Die atmosfeer is vredig.
Schoombie beduie trots: dit is trop-leier Baron (ingevoer uit Denemarke), Helen Bila Merci (ingevoer uit Tsjeggië), Prinses, General Primus en King Arthur (ingevoer uit Serbië). Lady Bea-trice en Lady Blanchefleur is die jongste toevoegings tot die gesin – Baron en Helen se kleintjies.
Almal wit Switserse herdershonde met top-bloedlyne.
Hy glimlag: “Hulle is nie net honde nie, hulle is deel van my familie. Hulle is my skaduwee – selfs in die donker.
“My honde is my alles. Die lewe wat ek hier leef, lewe ek vir hulle.”
Sy redding
Maar hoekom met dié honde teel? Liefde.
’n Hartseer-trek flits oor sy gesig: “Baron en Prinses, asook my oorlede Duitse herdershond (Fido), het sewe jaar terug my lewe gered.”
Schoombie is in 2012 met rumatoïede artritis gediagnoseer. In 2013 het dié siekte sy organe begin aanval. Vasgekluister in ’n rolstoel – met net ’n jaar om te leef.
“Ek kon nie meer aangaan met werk nie, ek was ongelooflik stukkend en deurmekaar van al die medikasie wat ek gebruik het,” sê hy. “Ek moes noodgedwonge my finansiële praktyk ver-koop – daardie tyd die middelpunt van my bestaan.
“Dit was ’n baie moeilike tyd in my lewe. As dit nie vir my honde was nie . . . hulle het my deurgetrek.
“Hulle sou by my kom sit en ’n poot op my skouer sit – dit is soos ’n mens wat sê: ‘Dit is oukei; ek is hier’. Of met hul kop op my skoot kom lê. Hulle het geweet wanneer om stil te wees en wanneer om my te troos. En wanneer om my te bemoedig.
“Dit is vir my moeilik om dit in woorde te omskryf . . . dit . . . Sonder hulle sou ek nie vandag hier kon sit nie. Hulle is ongelooflike metgeselle wat soms verder as mense kan help met genesing en terapie.”
Schoombie, wat in 2014 begin herstel het en vandag sonder enige hulpmiddels loop, deel nou dié opregte hondeliefde en omgee met ander diereliefhebbers deur met die diere te teel.
Maar baie konserwatief.
Vierpotige kinders
Sedert Nobles of Camelot in 2015 op die been gebring is, was daar nog net twee werpsels. Hy werk streng volgens ’n waglys – voor hy toelaat dat die honde aanteel.
Dit is beslis nie vir die geld òf ten koste van die ras-standaard nie (al die honde val in die A-kategorie). Hiér is redelik algemene heup- en elmboë-probleme nie ’n kwessie nie.
Baron het intussen by sy voete kom lê.
Schoombie, wat by die Suid-Afrikaanse Honderasregister (SACBR) en Kennel Union of Southern Africa (KUSA) geregistreer is, vertel dat hy dié honde net aan iemand sal verkoop wat hy ten volle vertrou.
“Dit is nie omdat ek ’n beheervraat is nie; dit is die suiwerheid van die ras wat tel.” En die welstand van die honde.
Enigiemand wat een van sy herdershonde as kleintjies koop, onderteken ’n onderneming om die diere te laat steriliseer en vir basiese opleiding te neem.
Verdere kriteria sluit in: die honde moet deel van die familie wees, hulle mag nie buite slaap nie, hulle mag slegs goeie-gehalte kos kry en moet vir al die nodige veearts-besoeke gaan.
“Dit is nie onderhandelbaar nie,” sê hy.
Karaktertrekke
Die honde is volgens Schoombie sinoniem met die ideale familiehond: gehoorsaam, beskermend, lojaal, dapper, intelligent en maklik opleibaar.
Hy vryf liefdevol oor Baron se kop: “Hulle is my hele lewe.”