Die nuwe dagbestuur vir AfriForum op Jeffreysbaai is, van links, Paul Eloff, Fred Vermaak (voorsitter), Tertius Lombaard en David du Raan.

Foto: Veronica Fourie

“Gemeenskappe moet beheer oor hulle eie veiligheidsituasie neem.

“Daar is in hierdie stadium geen alternatief nie. Die staat gaan dit beslis nie in die afsienbare toekoms doen nie. Die krag lê in gemeenskappe wat opstaan, saamwerk en saamdoen. Ons moet dit in geloof doen. Ons moet nie vrees nie.”

So sê oud-generaal-majoor Roland de Vries. Hy was die gasspreker by AfriForum se tak op Jeffreysbaai tydens hul jaarvergadering.

De Vries beywer hom vir die vestiging van gemeenskapsveiligheidseenhede regoor die land.

Hy is ook die skrywer van die boek Veiligheid vir gemeenskappe.

“Die gebrek aan wil en onbeholpenheid van die staat se kant af is vir my terselfdertyd duidelik en onrusbarend. Suid-Afrika word tans gereken as een van die lande met die hoogste geweldsmisdaadsyfers in die wêreld.

“Met moord bo-aan die lys volg brutale plaasaanvalle, plaasmoorde, onwettige grondbetreding en besetting, huisbraak, voertuigkapings en veediefstal. Alle provinsies in die land word hierdeur geraak,” aldus De Vries.

Hy het die gehoor gemotiveer om eie families en dan die groter gemeenskap te beveilig.

Hy het reeds met AfriForum saamgewerk om sulke eenhede op verskeie plekke suksesvol te vestig, op byvoorbeeld Graaff-Reinet, Jansenville, Aberdeen, Gamtoosvallei, Sonskynkus, Heidelberg, en die Laeveld.

AfriForum speel ’n toonaangewende rol met die vestiging van die eenhede. Daar is reeds een op Jeffreysbaai.

Die plan is dat die eenhede saam met die polisie, sekerheidsmaatskappye en buurtwagte sal werk.

“Ons wil dit ook in die townships en informele woonbuurte vestig. AfriForum ondersteun alle gemeenskappe wat dieselfde doel het.

“Die moontlikheid om die taxi-bedryf te betrek word ondersoek. Die visie is dat elke familie sal deelneem aan ’n gemeenskapsveiligheidsisteem om veilig te wees. Ons moenie laks wees om veiligheidsmaatreëls tuis na te kom nie.

“Ons kan dit doen as ons saamstaan en onderlinge mededinging en organisasie politiek weglaat! Ons moet met die beste van ons vermoëns, beheer oor ons situasie neem.

“Dit vat moed en durf en leierskap en deursettingsvermoë vir ’n gemeenskap om beheer oor hulle eie veiligheidsituasie te neem en saam te werk; aangesien dit deur vrywilligers in hulle eie tyd en met hulle eie hulpbronne gedoen word.”

Hy het verwys na voorvalle van gewel-dadige optredes in KwaZulu-Natal, Kirkwood, Coligny en Hermanus.

De Vries sê om gemeenskappe te organiseer, is die eerste stap.

De Vries het voorts gesê dat ’n gemeenskap die belangrikste magsbasis is. “Beveiliging begin egter by die familie waar risiko beperk moet word.

“Hoe meer gemeenskappe betrokke raak, hoe beter is die insameling van inligting, om sodoende beter beplanning vir beveiliging te kan doen, en optrede suksesvol uit te voer.

“Die dae van gewone buurtwagte en plaaswagte is verby. Ons sal veiligheid ernstiger moet benader.”

De Vries sê die klem moet op voorkoming wees eerder as reaksie.

  • Enigiemand wat belangstel om betrokke te raak, kan Paul Eloff kontak by 083 468 1238.
Die nuwe dagbestuur vir AfriForum op Jeffreysbaai is, van links, Paul Eloff, Fred Vermaak (voorsitter), Tertius Lombaard en David du Raan.

You need to be Logged In to leave a comment.