Lede van die AVVB Seemeeu Laer.

Foto: Verskaf

Volkspele is ’n Afrikaner volksdanstradisie wat al vir 108 jaar bestaan sedert dr. Pellissier besluit het om met die Volkspele-beweging in Suid-Afrika te begin.

Alhoewel volkspele ná 1914 op Boshoff en ander dorpe gewild was en gegroei het, was die deurbraak vir landwye belangstelling op na-sionale vlak eers vanaf 1926 toe dr. Pellissier aangestel is as direkteur van onderwys in die Vrystaat.

Van toe af kon volkspele die nodige hupstoot kry wat dit eindelik tot nasionale vlak laat vorder het.

Vanjaar was Saterdag, 10 September, ’n dag van blydskap en danksegging by die Jeffreysrus Aftree-oord in Jeffreysbaai toe Oorkondes oorhandig is aan twee getroue lede van die volkspele-beweging.

Dié Oorkondes is toegeken aan Hettie Jacobsz en Hoffie Williams vir die besondere diens en bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging (AVVB) en dit is toegeken deur die nasionale raad van die AVVB.

Niggie Hettie was vir bykans 25 jaar sekretaresse en Neef Hoffie was vir baie jare lank die laerleier van Seemeeu Laer.

Die Niggies (dames) en Neefs (mans) van die plaaslike Seemeeu Laer in Jeffreysbaai het by die byeenkoms ook volksdanse gelewer. As ’n blyk van waardering vanaf die Seemeeu Laer vir die ondersteuning gedurende al die jare, is daar ’n skildery oorhandig aan die Jeffreysrus Aftree-oord waar dit voortaan in die saal sal pryk waar daar gereeld gedans word.

– ARTIKEL VERSKAF DEUR SEEMEEU LAER

Van links is Hoffie Williams (jarelange leier, Seemeeu Laer), Elmarie Louw (Seemeeu Laer), Hettie Jacobsz (jarelange sekretaresse, Seemeeu Laer) en Cathy Potgieter (Humansdorp Museum).

You need to be Logged In to leave a comment.