’n Heerlike markdag met keurige gebak, kraakvars produkte en kwaliteit vleis – alles onder een dak.
Die Evangelies-Gereformeerde Kerk Gamtoosvallei hou soos oudergewoonte op 28 Oktober vanaf 07:30 tot 12:00 ’n markdag by Citrus Packers, net buite Hankey op pad na Patensie.
Die tafels gaan kreun onder pannekoek, roosterkoeke, kerrie en rys, jaffels en die heerlikste nagereg. Daar sal ook vars vrugte en groente te koop wees.
Jagliefhebbers kan uitsien na ’n verskeidenheid jagpakette wat opgeveil sal word.
Die teetuin bied ’n ruskansie vir moeë voete en droë kele – dit alles terwyl die kleinspan die kinderhoekie besoek.
Kom geniet die oggend in die teenwoordigheid van ’n hartlike gemeente en gemeenskap.
Vir meer inligting, skakel gerus ds. Hendrik Weyers by 083 256 2910.