LOERIE-inwoners is ’n moontlike inkomste van duisende Rand kwyt nadat die gewilde Loerie-nartjiefees weens die Covid-19 pandemie vir vanjaar afgelas is.
Die feeskomitee het vroeër vandeesmaand aangekondig dat die besluit geneem is om die jaarlikse fees eers weer in 2021 aan te bied. Dit sou op Saterdag, 26 September plaasgevind het.
“Dit was vir die NG Kerk Loerie ’n moeilike en hartseer besluit om die 29ste Nartjie-fees uit te stel,” sê fees-organiseerder Herlien Moolman. “Toe ander feeste landwyd afgestel is, het ons gehoop dat ons steeds die fees sal kan aanbied, maar het gou besef dat ons geen keuse het nie.
“Al verg die fees baie organisasie en harde werk, is dit lekker om as gemeentelede saam te werk en die fees aan te bied. Boonop geniet ons die fees net soveel as die feesgangers.”
Volgens Moolman is die uitstel van die fees ’n groot finansiële verlies vir die plaaslike NG Kerk.
Die winsopbrengs word gebruik om die gemeente se noodsaaklike uitgawes te dek: onder meer salarisse, instandhouding, versekering, sekuriteit en munisipale koste.
“Fondse vir dié uitgawes sal nou op ander maniere verkry moet word,” sê sy.
“Dit sal ook vir die gemeente baie moeilik wees om geld vir gemeenskapsprojekte beskikbaar te stel.”
Die inkomste van vorige projekte het betaal vir die aankoop vir rakke vir die plaaslike skool, asook finansiële bystand vir instandhoudingswerk. Daar is verder tien rolstoele vir behoeftige mense aangekoop en geldelike ondersteuning aan ’n sendingsprojek gegee.
Die geldelike verlies strek egter verder as slegs die kerk.
“’n Groot aantal plaaslike inwoners werk tydens die fees by die kos-, groente- en nar-tjiestalletjies vir ’n ekstra inkomste,” sê Moolman. “Die eienaars van die kunsmarkstalletjies, wat gereeld by ons kom uitstal, verloor ook hul inkomste.”
Die komitee is reeds hard aan die beplan vir volgende jaar se fees wat op Saterdag, 25 September sal plaasvind.
Oudergewoonte sal dit ’n gesinsfees met topkunstenaars wees.
Die name van die kunstenaars wat by die fees optree, sal binnekort bekendgemaak word.
“Volgende jaar hou ons weer Nartjiefees,” sê Moolman.
“Die natuurskoon van die Gamtoosvallei gaan nog net so mooi wees, en die verskeidenheid eetgoed – insluitende die groente en nartjies – gaan so lekker soos altyd wees.
“Dit is die Nartjiefeesspan se wens en hoop dat elkeen in Kouga veilig en gesond gaan bly.”