GRAAD 11 is een van die belangrikste jare van enige leerling se skoolloopbaan, omdat dít die jaar is wat sal bepaal watter opsies na skool gevolg kan word in terme van tersiêre opleiding.
Kouga Express het met Coert Geldenhuys gaan gesels om te hoor wat belangrik is vir leerders in hierdie fase van hul skoolloopbane om te weet.
Geldenhuys is vakhoof van Lewens-oriëntering by Global Leadership Academy, wat hom ’n kenner maak op die gebied van beroepsbegeleiding en leerderondersteuning.
Eerstens is dit baie belangrik om te onthou dat, indien jy na hoërskool by ’n akademiese instansie verder wil studeer, jy met jou graad 11–punte sal moet aansoek doen vir toelating tot die instansie, sowel as jou kursus.
Dit is dus van kardinale belang dat jy reeds in graad 11 korrekte vakkeuses het, om jou kanse om aanvaarding by die instansie van jou keuse te vergroot.
Volgens die Departement van Onderwys se beleid mag leerders slegs twee vakveranderings maak aan die begin van hul graad 11 jaar en dan aan die begin van graad 12 slegs een vakverandering.
Dit beteken dat leerders baie seker moet wees watter vakke verpligtend is vir hul gekose studierigting en al in graad 11 probeer om hul vakkeuses reg te doen.
Neem ook kennis dat die verpligte vakke kan verskil van instansie tot instansie.
Maak dus seker van die vakke wat vereis word deur die leerder se gekose tersiêre instansie.
Wenwenk
. Neem die vakke wat verpligtend is vir jou studierigting en neem dan een of twee ander vakke wat nie so veeleisend is nie.
Die rede daarvoor is dat dit belangrik is om goeie punte te behaal in jou verpligte vakke, maar dat jou algehele gemiddeld ook bepaal of jy suksesvol sal wees in jou aansoek.
’n Swakker gemiddeld lei soms daartoe dat ’n leerder nie gekeur word vir ’n sekere kursus nie, alhowel die verpligte vakke se punte goed genoeg is.
Mense fokus dikwels op “die groot 6”, naamlik, Afrikaans, Engels, Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe en Rekeningkunde. Al hierdie vakke saam is baie selde nodig om ’n studie-rigting te betree. Maak seker watter vakke jy moét neem en moenie jouself onnodig akademies oorlaai nie.
. Tweedens is dit baie belangrik om te weet dat jy in jou graad 12–eindeksamen oor baie van jou graad 11–werk sal eksamen skryf, alhowel jy dit nie weer in graad 12 gaan behandel nie. Graad 11 en 12 is een sillabus. Vra vir die vak-onderwyser watter werk van toepassing is op graad 12 en maak baie seker dat jy daardie werk onder die knie het, en die notas mooi bêre vir hersiening.
Geldenhuys vertel dat dit ook kan gebeur dat leerders nog nie seker is van presies watter roete hulle na skool wil volg nie. Besluiteloses is dikwels uitgelewer aan duur aanlegtoetse, wat nie vir alle leerders bekombaar is nie.
Vir hierdie leerders is daar ’n baie goeie gratis aanlyn–hulpbron: www.gostudy.net. Hierdie webtuiste sal leerders deur ’n vraelys neem en dan verskeie studierigtings voorstel wat in die leerder se belangstelling val. Dit wys ook watter instansies hierdie kursusse aanbied sodat leerders kan verseker dat hulle aan die toelatingsvereistes voldoen.
Laastens, glo baie leerders dat om na skool by ’n tersiêre instansie te studeer nie vir hulle ’n opsie is nie as gevolg van ’n tekort aan finansies. Ook hiervoor het Geldenhuys raad.
“Daar is ’n paar webtuistes wat beskikbare beurse en finansieringsopsies lys. Om vroegtydig bewus te wees van die beurs-opsies en –vereistes stel leerders in staat om vroegtydig aansoek te doen, en te sorg dat hulle aan al die vereistes voldoen.
Geldenhuys beveel leerders aan om die volgende webtuistes te besoek vir inligting oor beurse wat tans beskikbaar is:
1.www.zabursaries.co.za
2.www.bursaries-southafrica.co.za
3.www.allbursaries.co.za
Kouga Express wens alle graad 11 leerders alle sukses toe met hul toekomsplanne, en vertrou dat hierdie inligting hul horisonne sal verbreed.


