Groen vingers en honderde tamaties

DAAR is groenboontjies, lemoenpampoen- tjies, uie, botterskorsies, eiervrug en tamaties by die dosyne . . . bloedrooi en sappig.


DAAR is groenboontjies, lemoenpampoen- tjies, uie, botterskorsies, eiervrug en tamaties by die dosyne . . . bloedrooi en sappig.

Japie van Zyl (82) se “kinders” lê hom na aan die hart – almal van hulle. Hulle vra nie veel nie – net die regte hoeveelheid son en water. En ’n bietjie liefde.

By Van Zyl kry hulle soveel meer: hy skoffel, knip reg en gesels. Soms hard – veral as hulle nie mooi groei nie. Die tamaai tamatieboom in sy agtertuin by die Ons Tuiste Aftreeoord in Humansdorp, loop gereeld deur: die ashoop is sy voorland as hy nie groei nie. En as Van Zyl weer kyk, kreun die takke onder honderde boepens-tamaties.

Klein en groot.

Van Zyl, ’n oud koper- en ystermaker, glimlag: “Toe ons drie jaar gelede vanaf die dorp na die aftreeoord verhuis het, was die half-dooie boom ’n raaisel – ons het geen idee gehad watter tipe boom dit is nie.

“Maar probeer red, gaan ons beslis.”

Benewens die groenboontjies en komkommers wat Van Zyl by die boom geplant het, het hy hom getrou water gegee.

En nou, drie jaar later, spog die boom met heerlike, sagte tamaties.

Van Zyl het sedert die begin van die maand al nagenoeg 400 tamaties gepluk – en die boom blom steeds.

Meer as genoeg vir sy daaglikse tamatie-slaai. Daar word ook liplekker tamatiekonfyt gemaak.

Die tamaties wat hy nie gebruik nie, word aan mede-inwoners uitgedeel.

“Hulle is altyd baie dankbaar vir die tamaties,” lag Van Zyl wat twee kinders en drie kleinkinders het.

Die liefde vir tuinmaak loop sedert ’n jong ouderdom dik in sy are.

Benewens die tamaties, spog hy met ’n reuse lemoenpampoentjie wat die skaal op 3kg laat kreun het, ’n eiervrug van 2.5kg en ’n allemintige botterskorsie van 3kg.

Daar is ook wortels, komkommers en blaarslaai.

Dit is vir hom lekker om goed te kan gebruik wat uit sy eie tuin kom.

“Ek is nog altyd lief daarvoor om in die tuin te werk. Of ek nou groente of blomme plant,” sê Van Zyl wat tuinmaak vir enigiemand aanbeveel. “Dan is ek in my eie wêreld en vergeet van enige probleme of stres.”

You need to be Logged In to leave a comment.