TOP Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan sorg vir vermaak uit die boonste rakke by die 2019 JBay Makiti.
Die eerste JBay Makiti vind vanaf 20 tot 22 September by die Jeffreysbaai Karavaanpark plaas – ‘n voortbou op die KIA Makietie Jeffreysbaai wat verlede jaar gehou is om Jeffreysbaai se oorwinning in die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie te vier.
“Van Suid-Afrika se top kunstenaars is reeds vasgemaak vir die JBay Makiti,” sê Horatio Hendricks, Kouga se uitvoerende burgemeester.
“Verlede jaar se wen-makietie was ‘n reuse sukses en ons sien uit daarna om vanjaar nog ‘n groter en beter fees vir ons inwoners en besoekers te kan aanbied.”
Van die groot name wat op die verhoog te sien sal wees, is die immergewilde Elvis Blue, Bloemfontein se blou-oog boerseun Brendan Peyper, Afrikaanse rock-sanger Dewald Wasserfall en die musiekgroep ADAM.
Ghoema-wenner Early B, ‘n rapper bekend vir sy skerp sin vir humor, en die alombekende Fatman, wat Suid-Afrikaners se harte gesteel het op The Voice SA, is ook reeds vir die Makiti bespreek.
Feesgangers kan daarnaas uitsien na optredes deur die Kaapse sangsensasie, Tarryn Lamb, Die Kontrak-wenner Demi-Lee Moore en die sangeres met die engelstem, Corlea Botha.
“Jeffreysbaai is die ideale vakansieplek vir die hele familie. Daar sal tonne pret vir die jongspan wees, insluitende pretritte en ‘n besoek van Buster, die Brak en Bella,” sê Hendricks. “Ons beoog om die JBay Makiti ‘n jaarlike instelling te maak, sodat Kouga dié plek word om te wéés tydens die September-skoolvakansie.”
Naas musiek en kindervermaak, sal daar eetgoed, kuns- en handwerkstalletjies, uitstallings, ‘n biertent en wyntuin wees.
Kaartjies vir die JBay Makiti sal eersdaags beskikbaar wees by www.quicket.co.za.
Aansoeke vir stalletjies by die Makiti kan tot 30 Junie ingedien word. Die aansoekvorms is beskikbaar by die Makiti Facebook-blad by www.facebook.com/JBayMakiti/ of stuur ‘n epos na jbaymakiti@gmail.com.