INGELEGDE kool, beet en smaaksensasie-sous moet met hekelkombersies, snesiesakkies en bedsokke meeding om plaaslike vroue se Israel-sending te befonds.
Martie Visser en Christa Munro het saamgespan en vir Elise Wassenaar betrek met hul insamel van fondse om hul uitreikreis te betaal.
Almal spartel maar om genoeg in te win vir die daaglikse, maar om boonop finansies uit te pers vir ’n reis, is bloed uit ‘n klip tap, sê die knap vroue.
Maar Martie maak altyd ’n plan. Sy lê in, brei en woeker. Toe sy en Christa hul passie met mekaar deel om na Israel uit te reik, het dit na ’n onmoontlike saak gelyk.
Martie: “Ek het net weer besef vir God is niks onmoontlik nie, maar ek moet doen wat ek kan.”
Elise is ingetrek, want haar hekelwerk is uitstaande. Vir haar hande staan niks verkeerd nie.
Christa sê dat sy wil álles beleef waaroor sy nog altyd in die Bybel lees. “Om in Jesus se voetspore te loop, sal die grootste eer wees.”
Maar, voeg Martie by, ons beskou dit nie as persoonlike bevordering nie. “Ons vra eerder hoe ons andere kan bystaan en leer. Nie almal kry die geleentheid soos dié nie, daarom wil ons alles wat in ons belê word, weer kom uitdeel op geestelike gebied.
“En in Israel doen ons sendingwerk – wat ons hand vind om te doen . . .”
Skakel gerus vir Martie by 076 539 3718.