Hankey: Dissiplinêre reus tree ná 38 jaar af

ASHTON Walsh of Meneer AT, soos hy bekend was onder Hankey Primêr leerders en personeel, lê ná 38 jaar die tuig neer.


ASHTON Walsh of Meneer AT, soos hy bekend was onder Hankey Primêr leerders en personeel, lê ná 38 jaar die tuig neer.

Hierdie geliefde adjunkhoof het amper nié in die onderwys beland nie en wou hom aanvanklik as prokureur bekwaam, maar het op die raad van sy ouers eerder die pad van opvoedkundige gevolg.

Walsh
Ashton Walsh van Hankey Primêr tree ná 38 jaar af. Foto: VERSKAF

“Daaroor is ek nie een dag spyt nie. Om ’n onderwyser te wees is nie ’n beroep nie, maar ’n roeping. Omdat jy daagliks met lerende siele werk, het jy ’n groot verantwoordelikheid teenoor elke een. Indien jy as onderwyser met ’n siel nalatig is, is ’n lewe wat tot sukses kon lei daarmee heen.”

Walsh is in Hankey gebore en getoë. Hier het hy sy skoolloopbaan by die Hankey Primêr begin en later in Humansdorp voltooi.

Hy het sy onderwyskwalifikasie aan Dower-onderwyskollege in Gqeberha voltooi, en daarna sy praktiese opleiding aan Hankey Primêr.

In 1993 is die Hankey Sekondêre Skool geopen en meneer Walsh is daarheen gestuur om te help om die nuwe skool op die been te kry. Hy kon eers in 1995 voltyds terugkeer na Hankey Primêr waar hy as departementshoof aangestel is.

Hy het hierdie pos vir 22 jaar en 10 maande be-klee voordat hy op 1 November 2017 as adjunkhoof aangestel is.

Walsh het hom gedurende sy loopbaan vir dissiplinêre sake beywer, en verseker dat sy skool se skoolreëls daagliks nougeset nagekom word.

“Die leerders, asook die onderwysers het deurgaans aan my baie respek betoon en sodoende dit moontlik gemaak om dissipline te handaaf. Dit gaan oor wedersydse respek. Die leerders was vir ons – myself en die afgetrede meneer Van Rooyen – baie lief en dit het ons taak as leiers van die skool vergemaklik.”

Hy het bygevoeg dat regverdigheid en deursigtigheid vir hom baie belangrik is.

“Dit moet alles gerugsteen word deur goeie Christelike waardes en standaarde. Ek het my lewe lank probeer om dit by die kinders en personeel onder my invloed tuis te bring.”

Walsh vergelyk ’n leerder met ’n kleipot wat gebak word in ’n pottebakkersoond. Indien die klei nie gesuiwer is nie, sal die pot bars van die hitte. Net so sal kinders nie die druk van die grootmenslewe kan weerstaan as hulle nie ’n goeie grondslag het nie.

Dit was vir hom ’n riem onder die hart om jaarliks ’n leierskapskursus vir die skool se prefekte aan te bied en hulle toe te rus met leiersvaar-dighede en maniere om dissipline te handhaaf.

Hoogtepunte gedurende sy loopbaan as opvoedkundige sluit die volgende in:

  • In Januarie 1992 is ’n prestasie-erkenning aan hom toegestaan vir meriete deur die onderwys-department.
  • Erkenning deur Hankey Primêr vir 33 jaar getroue diens.
  • ’n Sertifikaat vanaf Boksmart vir rugbyafrigting.
  • Afrigting van leerders wat hulle provinsie verteenwoordig het op verskeie gebiede, insluitend rugby, tafeltennis en atletiek.

Meneer Walsh laat die skool na met die volgende projekte wat hy bewerkstellig het gedurende die afgelope paar jaar:

  • Hy het ’n gemeenskapsgroente-tuinprojek begin om honger mae te vul;
  • Hy het gesorg vir die installasie van elektriese waterpompe aan die skool se watertenke sodat die skool daagliks kan water hê, omdat Hankey nie deur die dag water het nie as gevolg van die droogte.

“Dit wat ek vandag opgee is van baie waarde. Dit was ’n enorme voorreg om my skool en gemeenskap te kon dien op hierdie manier. Ek tree uit as trotse veteraan van Hankey Primêr – ’n skool van roem en eer.”

You need to be Logged In to leave a comment.