VCS Teacher training. Foto:JOANE AZENHA

NÁ vele samesprekings met verskillende regerende entiteite het privaatskole toestemming gekry om op 1 Februarie te open met staatskole wat op 15 Februarie volg.

Kouga Express het by ’n paar privaatskole in Jeffreysbaai aangeklop om uit te vind hoe hulle die nuwe skooljaar gaan aanpak.

Daar is verskeie faktore wat die gereedheid vir die heropening van ’n skool beïnvloed. Gereëlde ontsmetting van klasse, ontsmettingstasies vir kinders om hul hande skoon te hou, meet van koors wanneer enig-iemand die perseel betree en rekordhouding van wie kom en gaan is maar net ’n paar van die dinge wat in plek moet wees.

“Die veiligheid van ons kinders is vir ons van uiterste belang. Dit is belangrik dat ouers hul kinders met gemoedsrus kan skool toe stuur. Ons is gereed en opgewonde om die leerders te ontvang vir die aanvang van die nuwe akademiese jaar,” het Stefan Kleyn, hoof van Global Leadership Academy gesê.

“By ons sal kinders op ’n tweeweeklikse basis roteer tussen aanlynskool en fisiese skoolbywoning. Ons onderwysers en kinders is ten volle voorbereid daarvoor en die nuwe graad agts sal opleiding ontvang om ons aanlynplatforms ten volle te kan benut en verstaan,” het Kleyn gesê.

Op vrae oor hul gereedheid vir die nuwe akademiese jaar, het Gavin Thompson, hoof van Victory Christian School in Jeffreysbaai, die volgende gesê, “In 2020 het Victory Christian School die hele kurrikulum vir elke graad voltooi. Ons was in staat om ons leerders elke dag by die skool te ontvang, en hulle het uitslae behaal wat die verwagtinge oortref het.

“Wat ook al in die toekoms mag gebeur, VCS leerders en personeel sal maklik van klaskamer na afstandonderrig kan skuif.”

Rennette Matthee, hoof van J-bay Academy het gesê dat hulle, as gevolg van die bou van hul nuwe perseel by Equinox Mall, die besluit geneem het om op 15 Februarie saam met die staatskole te open.

Hulle is baie opgewonde om leerders dan by hul nuwe skool te verwelkom, waar die hoër- en laerskool nou onder een dak sal wees.

Gedurende die pandemie het hierdie skole ook noodgedwonge aanlynplatforms ontwikkel vir leerders wat nie fisies skool wil of kan bywoon nie. Leerders kan ook aanlyn vir hierdie skole ingeskryf word.

You need to be Logged In to leave a comment.