Wild fig in Jeffreysbaai, met sjef en eienaar Christo du Plessis (regs) aan die stuur, is meer as ’n restaurant – dit is ’n skatkis vir jou smaakpapies en ’n onvergeetlike ervaring wat al jou sintuie betrek. Du Plessis word deur uithaler-sjef Dallas Land (links) bygestaan. Foto’s:MONIQUE BASSON


IN die parkeerarea van die plaasstyl-restaurant, wild fig in Jeffreysbaai, word jy omring met honderd-jaaroue vyebome en uitspansels groen grasperke.

Perde runnik vaag in die agtergrond en wipneus-hasies loer nuuskierig deur die ogiesdraad, terwyl ’n miniatuur trein saggies op sy ysterspore klik-klak – al in die rondte – en watertand-lekker geure die lug vul.

Ontsnapping

Wild fig, met sjef en eienaar Christo du Plessis aan die stuur, is meer as ’n restaurant – dit is ’n skatkis vir jou smaakpapies en ’n onvergeetlike ervaring wat al jou sintuie betrek.

Du Plessis het ná sy studies in Johannesburg (sjef en hotelbestuur) ervaring in baie van die top-restaurante in dié stad opgedoen.

Ná ’n ruk het hy gevoel die “stiller” lewe roep hom, en hy het in 2016 by InFood in Jeffreysbaai begin werk, voor hy sy eie restaurant (wild fig) in September, vanjaar geopen het.

’n Jarelange droom

Volgens hom is dit veral die benadering tot kosmaak wat hom aangetrek het. En die genot wat sy kos aan mense verskaf.

“My kookstyl is op etiese kulinêre praktyke gegrond. Dit sluit in minimum-vermorsing en heilsame geregte.

“Ons gebruik slegs die varsste en beste bestanddele vir ons disse, soos byvoorbeeld die kruie en groente uit ons eie tuin.”

Die spyskaart verander gereeld na gelang van die seisoen en beskikbaarheid en, na-tuurlik, spesiale versoeke. Hoewel daar geen pizza’s met vleis op die spyskaart is nie, word dit wel aangebied.

Benewens die spogdisse is daar ’n ruim stoep waar jy met ’n glas yskoue wyn teen die somerson kan skuil.

Daar is ’n yslike klouterraam waar kinders hulself kan besig hou, asook ’n troetelplaas en ritte op ’n miniatuur trein.

Toe word ons honger

En toe word ons honger – tyd om die kos te beproef.

Maar wát?

Ons is in Du Plessis se hande – hy gaan ’n paar geregte bring sodat ons behoorlik kan proe wat wild fig bied.

Ons begin met ’n Italiaans-geïnspireerde caprese pizza (marinara-sous, mozzarella, kersietamaties en roket met balsamiese reduksie): minder bestanddele, meer smaak.

Volgende word diepgebraaide skyfies met maalvleis, kaassous, jalapeno suurroom en salsa (nachos fries) voor ons neergesit.

Die gereg lyk prentjiemooi en die smake komplementeer mekaar te heerlik.

Chicken parmesan is volgende: bros hoender schnitzel met marinara-sous, parmesan en mozzarella bedien met broccoli.

’n Mens dink by jouself, “net nog een happie”. En voor jy jou kom kry, is die bord leeg – en met reg.

Teen dié tyd wou ons mae nie meer nie, maar Du Plessis was nog nie klaar nie.

’n Burger met sagte steak, geurige kaas-sous en spek beland saam met goudbruin skyfies op ons tafel.

’n Onvergeetlike gereg

Daar is nie ’n gaatjie oor vir nagereg nie.

Dit is duidelik: Du Plessis sit liefde en moei-te in elke dis wat hy bedien. Jy kan sy passie vir kosmaak met elke hap proe.

Daar is ook ontbyt (die gunsteling: soetpatat met ’n verskeidenheid vulsels), toebroodjies, pasta, steak, ribbetjies (wanneer beskikbaar), vis, Sondag-etes en ’n spyskaart vir kinders (die jongspan kan hulle eie pizza by die tafel maak).

Wild fig is maklik om te vind, maar moeilik om te verlaat.


) Waar:
Doornkampweg (uit Da Gamaweg), Jeffreysbaai

  • Funksies: Enigiets – van verjaarsdae en kombuistees tot werkfunksies, aftree-partytjies en selfs troues (120 tot 150 mense)


) Inligting:

www.wildfig.co.za


) Kontak:
042 940 0072


) Besigheidsure:
Maandae, Dinsdae en Donderdae vanaf 08:00 tot 17:00; Vrydae vanaf 08:00 tot 21:00; Saterdae vanaf 09:00 tot 21:00 en Sondae vanaf 09:00 tot 15:00

You need to be Logged In to leave a comment.