DROOM groot, en sorg dat dit waar word met harde werk en passie!
Dis die lewensuitkyk van die Oos-Kaapse kunstenaar Hilde Alet Malan.
Vandat sy ’n klein dogtertjie was op die plaas Stuk van Acht op Patensie, wou sy ’n kunstenaar wees. Sy het haar ouers Herman en Mari Malan verseker sy gaan ’n suksesvolle kunstenaar wees. Met ’n graad in die skone kunste aan die Universiteit van Stellenbosch en ’n nagraadse onderwyskwalifikasie, het sy die lewe met mening gepak.
Sy het twee jaar skoolgehou, en haar toe by die familie se sitrus- en komkommerboerdery aangesluit as produksiebestuurder. Die vaardig-hede wat sy hier bemeester het, het haar geslyp vir die pad vorentoe.
Ma Mari was ’n gerekende sake-vrou met die komkommerboerdery. Sy was Hilde se rolmodel en inspirasie, en sy volg nou in haar ma se entrepreneursvoetspore as ’n vernuftige bemarker.
Tussendeur het sy haar kuns beoefen, en ’n hunkering gehad om dit meer te doen.
“Ek het besef die lewe is te kort om te wag dat drome bewaarheid word, ek moes self aksie neem.”
Hilde het haar kunswerke op Facebook geplaas en sommer gou het sy groot aanhang gehad. Dit het haar vroeg in 2019 genoop om net halfdag op die plaas te werk, en die res van die dag te skep.
Haar wit en swart lyntekeninge was gewild. Verkope het die hoogte inge-skiet en sy moes toe ’n paar maande later voltyds teken om aan die vraag te voldoen, ook oorsee. In so ’n mate dat sy spesiaal ’n ateljee by haar huis laat aanbou het. Te midde van die COVID-19 pandemie in 2020 was sy bekommerd dat haar werke nie verskeep sou kon word nie. Maar sy het voortgegaan om kunswerke te maak vir geduldige aanhangers wat sou wag vir aflewerings in Vlak 3. ’n Rekord van meer as 700 kunswerke moes na hulle eienaars gestuur word.
“Ek het net gereken die mense is in hul huise vasgevang en sal dus weer lus kry om hul huise mooi te maak, en hulle het meer tyd om op hulle rekenaars en selfone te wees,” vertel die 31-jarige kunstenaar.
Haar werke sluit veral tekeninge in van die vroulike liggaam, blomme en gesigte. Sy teken graag proteas, wat haar ma, wat sowat ses jaar gelede oorlede is, se gunsteling blom was. Sy plaas haar werke net op sosiale platforms soos Facebook en Instagram, en hou selfs gereeld aanlyn-veilings. Sy het tans meer as 37 000 aanhangers.
“Die ateljee by die huis het te klein geword, en ek moes ’n groter een laat bou op die werf,” sê sy met haar kenmerkende bry en breë glimlag. Die nuwe gebou is so groot soos ’n pakhuis! En dis vol kunswerke wat voortdurend verpak en versend moet word. Die ateljee is onlangs luisterryk ingewy.
“Ek staan soms verstom oor die verloop van my lewensreis. Ek is dankbaar oor elke groot stap wat ek geneem. So het ek oneindig baie ge-leer. Ek is verheug om elke dag te doen waarvoor ek lief is. Ek wil mense graag positief inspireer deur my kuns – waar dit ookal in die wêreld hang.”
Sy is getroud met haar jeugliefde, Jakoos Scheepers, wat ook ’n boer is. Hul eersteling maak vroeg volgende jaar sy opwagting.
Besoek gerus haar webblad by www.hildealetmalan.co.za
Haar kunswerke kan ook op Facebook en Instagram gesien word by Hilde Alet Malan Art. Skakel 063 622 2389 vir ’n afspraak om die kunsateljee op Patensie te besoek.