Hoe raak die inperking ’n swanger vrou?

SY hoort op ’n tydskrifvoorblad . . . blond en beeldskoon.


SY hoort op ’n tydskrifvoorblad . . . blond en beeldskoon.

Marna Louw (27), gebore en getoë op Jeffreysbaai, is egter 33 weke swanger met haar tweede kind, tuis ingegrendel.

Genadiglik is haar man, Cornelius, se kantoor tuis, al kon hy vir lank nie werk nie.

Die Kouga Express wou weet hoe raak die inperking ’n jong ma se swangerskapondervinding.

Louw sê dit het haar nie dadelik getref nie, want sy is gewoond daaraan om tuis te wees met hul kleuterseuntjie.

Maar hoe later; hoe meer frustrerend.

“In die begin het ek glad nie saam met my man winkel toe gegaan nie. Ek was regtig baie bang.

“Veral die enkele kere as een van ons ’n kop- of keelseer gekry het. Mens kyk mos uit vir simptome.”

As Louw dit nóú winkel toe waag, is sy gemasker en het die ontsmettingsmiddel naby. Selfs boeta is geleer om sy handjies mooi te was.

Skok

Volgens haar is daar soveel faktore wat bydrae tot die vreemde ondervinding – dit was ’n skok toe die werklikheid tref.

“Toe die inperking aangekondig is, het ons gaste van Pretoria gehad. Hulle het dadelik begin pak om huis toe te gaan. Dit was hartseer, maar so half nog nie ’n werklikheid nie.

“Ek het gedink dat die hele ding nou al sou oor wees, want mens het vooropgestelde idees.”

Die mooie ma vertel: “Cornelius en my ma het ’n babatee gereël, maar dit moes gekanseleer word. En dit was hartseer. Al sou die inperking oor wees, sal dit nog nie veilig wees om soiets te hou nie.”

Dit is die vanselfsprekende dinge wat opvallend word, soos die seuntjie wat baie hou van winkelwaentjie-ry. Hy kan nie dorp toe gaan nie – en ook nie vir Oupa en Ouma fisies sien nie . . .

Die elkedag-dinge.

Louw sê: “Ons moes die ginekoloogbesoeke in Port Elizabeth inkort, maar die Healthy Mom and Baby Clinic op Jeffreys is fantasties. Hulle is so beskermend en sien toe dat dit veilig is vir al die mammas deur ons so min as moontlik fisies te sien.

“Maar die ondersteuning en hulp is daar as mens dit nodig het.”

Volgens haar raak die grendeltyd op alle vlakke frustrerend.

“Cornelius kon eers ’n paar weke terug weer begin werk; en besigheid is aanvanklik stadig.”

Tot dusver kon hulle geen aan-kope vir die nuwe baba doen nie.

Louw sê dat haar vriendinne, wat onlangs dogtertjies gehad het, soveel geskenk het. Anders was die komende pienkvoet in boetie-blou geklee.

Sy kan haarself nie indink hoe dit gaan wees wanneer die nuwe babatjie daar is nie, want mense kan nie kom groet of ontmoet nie.

“Mens is versigtig, want die vraag is, ‘was die ander mense in aanraking met siekes?’”

Haar grootste vrees? “Dat my man nie by my mag wees tydens die bevalling nie. Hy was fantasties die eerste keer. Ek moet myself nog voorberei vir daardie moontlikheid.

“Ons moet die núwe nuut aanleer, want dinge gaan nie dieselfde as vantevore wees nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.