’n DRINGENDE aansoek dat private kleuterskole en dagmoeders op 6 Julie hul werksaamhede kan voortsit, is by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.
Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers het die aansoek gebring om regsekerheid oor die heropening van die skole te kry.
Die regulasies maak tans voorsiening daarvoor dat kleuterskole op 6 Julie mag heropen, maar volgens SOS sluit dit private kleuterskole uit.
Weens die dringendheid van die saak, het hulle gevra dat die saak so gou as 23 Junie op die hofrol geplaas word.
Die aansoek wil Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, en Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), dwing om uitsluitsel oor die opening van private kleuterskole en dagsorgsentrums te gee.
Luidens ’n verklaring volg die aansoek nadat beide ministers versuim het om te reageer op ’n dringende skrywe wat op 4 Junie aan hulle gestuur is.
Aldus die verklaring is die toekoms van private kleuterskole, wat sentrums vir voeë kinderontwikkeling (VKO) insluit, nou in die gedrang.
Nagenoeg 900 000 kinders landwyd sal daardeur geraak word as die private instellings nie mag heropen nie.
Volgens Paul Colditz, voorsitter van Fedsas, is dit belangrik om daarop te wys dat VKO-sentrums, wat voldoen aan die definisie van “skool” soos uiteengesit in die Skolewet, mag heropen
“Dit is met ander woorde alle VKO-sentrums wat gr. R aanbied, ongeag of hulle deel vorm van bestaande skole soos dit normaalweg verstaan word en of hulle alleenstaande instellings is,” sê Colditz.
Volgens hom word net die VKO-sentrums wat glad nie gr. R aanbied nie, uitgesluit by die regulasies en moet dit deur die departement van maatskaplike ontwikkeling gereguleer word.
Adv. André Gaum, ’n kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, sê as daar wel bepaal kan word dat die regulasies private kleuterskole en dagsorgsentrums uitsluit, is dit irrasioneel.
Lumka Oliphant, woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling, sê die saak is nou sub judice en hulle mag dus nie kommentaar lewer nie.