’n Bekende in Oos-Kaapse natuurbewaring asook in die Voortrekker- en Afrikaanse Volksang- en Volkspelebewegings, Hoffie Williams, is Sondagoggend op die ouderdom van 95 oorlede.
Williams, een van die oudste inwoners van die Jeffreysrus-aftreeoord op Jeffreysbaai, is presies ’n maand voor sy 96ste verjaardag dood nadat hy oor die afgelope paar maande verswak het.
Hy is bekend vir sy omvangryke kennis van die natuur, sterrekunde, plant- en dierkunde, algemene wetenskap, geskiedenis en letterkunde wat hy graag met kinders gedeel het.
Williams is op 8 Oktober 1928 op Kariega gebore en was een van die topleerlinge in die 1945-matriekklas van die Humansdorp Hoërskool, nog voordat dit tot die Hoërskool Nico Malan herdoop is. Hy het hom as elektrisiën by die Durban Deep goudmyn aan die Witwatersrand gekwalifiseer, waarna hy vir byna 40 jaar by die eertydse Yskor-staalfabriek in Vanderbiljpark gewerk het.
Hy is in 1953 met Anna Fouché getroud. Anna het in 1983 in ’n motorongeluk gesterf. Williams het na sy aftrede by Yskor hom as natuurbewaarder bekwaam en ’n tweede loopbaan begin. Die staaltjie word vertel dat hy vir die praktiese deel van sy natuurbewaringskursus by ’n reservaat naby Port Alfred moes gaan werk. Die bewaarders het uitgesien na die koms van die student wat by hulle prakties moes kom doen, en groot was hul verbasing toe die student ’n ou man met ’n baard was. Hy is toe summier “Hoffie the Student” gedoop. Williams het sedert die vroeë 1990’s tot laat 2000’s by die Loerie-natuurreservaat by die Loeriedam gewerk en oor die jare kon talle skoolgroepe uit sy ryke natuurkennis put.
Hy was al sedert sy jare in Vanderbiljpark baie betrokke by die Voortrekker-beweging en die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging. Hy was vir baie jare die leier van die Seemeeu-volkspelelaer op Jeffreysbaai. Hy was een van die stigterslede van die Voortrekkers se Kaba selfbehoudkamp wat in die Kaba-vallei net buite Alexandria gehou word. Hy het van 1992 tot 2008 die veldkuns-afdeling van die kamp aangebied.
Hy was ’n vaardige vryskutfotograaf wat sedert die 1950’s duisende skool-, trou-, familie-, koerant- en kunsfoto’s geneem het.
Merkwaardig was Williams se vermoë om by te hou met tegnologiese veranderings. Hy het nog tot onlangs toe weekliks ’n e-pos nuusbrief met familienuus na die uitgebreide familie regoor die wêreld gestuur. Hy kon gereeld via video-oproepe met sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders in Kanada, Amerika en Brittanje kommunikeer.
Sy humorsin was welbekend en hy kon ’n geselskap aan die gang hou met ’n voortdurende vloei van grappies en staaltjies. Hy was lief om sy voertuie byname te gee. Sy laaste voertuig, ’n Daihatsu, was Ietermago. Sy selfgemaakte diefweringstelsel in Ietermago het bestaan uit ’n opgestopte likkewaan wat op die paneelbord gelê het.
Williams word oorleef deur sy suster Anré en broer Japie. Sy broers Wilry en Muntingh is reeds oorlede.
Hy word ook oorleef deur sy kinders William, Pieter, Henry, Fouché en Esther, asook 12 kleinkinders en 8 agterkleinkinders.
Die teraardebestelling sal Saterdag 21 September om 09:00 wees by die familiekerkhof op die plaas Bergrivier tussen Thornhill en Loerie waar Williams groot geword het. Daarna volg ‘n diens om 11:30 by die NG Kerk in Da Gamastraat, Jeffreysbaai, en ‘n gedenkdiens 14:30 by die Jeffreysrus-aftreeoord.