Hokkie-kaptein nasionaal vereer

BAIE jongmense droom daarvan om hul land op die sportveld te verteenwoordig, maar dit is selde dat iemand in graad 11 al die geleentheid kry om vir die senior nasionale span in toetswedstryde uit te draf.


BAIE jongmense droom daarvan om hul land op die sportveld te verteenwoordig, maar dit is selde dat iemand in graad 11 al die geleentheid kry om vir die senior nasionale span in toetswedstryde uit te draf.

Dis presies wat Edith Molikoe van Woodridge College buite Port Elizabeth verlede jaar in hokkie vermag het.

Sy het so goed gespeel dat sy ’n besonderse prys ontvang het.

Suid-Afrikaanse binnenshuise hokkie het vroeër vanjaar vir Edith, tans in graad 12, as die o.20-vrouespeler van die Jaar aangewys. Binnenshuise hokkie is ’n somer- en wintersport en die 2018-seisoen het eers ná ’n oorsese toer vroeg vanjaar geëindig.

Edith het verlede jaar haar toetsdebuut vir die SA-vrouespan gemaak en intussen al in vyf toetsreekse haar hokkiestok geswaai. Haar vaardighede het aandag getrek, al was sy die jongste spanlid.

Binnenshuis speel sy vir die Vipers-klub in Port Elizabeth, maar by die skool is sy ewe bedrewe in veldhokkie. Sy was verlede jaar een van twee Woodridge-spelers wat vir SA-spanne gekies is. Edith was ’n lid van die SA o.18-span, terwyl haar skoolmaat Kamva Dyaklala vir die o.17 SA-span gekies is.

By Woodridge is Edith vanjaar hoofmeisie en vir die tweede jaar die kaptein van die eerste-meisiespan. Haar skoolloopbaan by Woodridge het in graad 8 begin nadat ’n afrigter haar talent tydens OP-proewe raakgesien het.

’n Gebreekte vinger het haar vanjaar ’n paar skoolwedstryde laat misloop, maar sy sien uit daarna om vandeesmaand by die interprovinsiale toernooi op haar pos te wees.

Die binnenshuise SA-span het verlede jaar in toetsreekse met Zimbabwe en Namibië afgereken. Daarna het hulle in die All Stars-toernooi te staan gekom teen ’n uitnodigingspan, saamgestel uit nasionale spelers van verskillende lande. Met dié taai teenstand kon die Suid-Afrikaners nie die oorhand kry nie.

In Januarie het Edith-hulle besonder goed gevaar op hulle toer na Switserland en die Tsjeggiese Republiek. Die SA-span het die reeks teen Switserland gewen en gelykop gespeel teen die Tsjegge.

Edith beskryf die toer as die hoogtepunt van haar ervaring as hokkiespeler tot dusver.

“Dit was net die beste ondervinding waaraan ’n mens kan dink,” sê sy.

Binnenshuise hokkie, vertel Edith verder, is blitsvinnig. “Daar is nie kans om te dribbel nie. As die bal aan jou stok raak, moet jy dadelik weet waarhéén om te speel.”

Sy beveel dit aan vir alle hokkiespelers wat wil verbeter. “Dis uitstekend vir fiksheid en ontwikkel jou bewustheid van die speelveld om jou. Die lyne wat ’n mens hardloop, is anders, maar dit verbeter jou insig in die spel.”

Haar raad aan jong hokkiespe-lers is uithou en aanhou. “Moet nooit opgee nie, maak nie saak wat gebeur nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.