Honderde wedlope vir Kareedouw-inwoner

Die teerpaaie van die Comrades ken hom goed. So ook die pad van die Twee Oseane-marathon wat al met sy hardloopskoene kontak gemaak het. Vanaf Port Alfred tot Kaapstad, en alles tussenin, het Audie Claassen (67) al duisende kilometers kafgedraf.moniq


MET die intrapslag moet jy eintlik jou oë op skrefies trek, want sy sitkamer blink van al die me-daljes wat teen die muur hang en op die kas staan: Comrades-marathon, Twee Oseane-marathon, Settlers-marathon en Bruintjieshoogte-ma-rathon.

Maar die oomblik wanneer hy begin praat, is dit duidelik waarom die mure so kreun onder al die blink goed: passie.

Audie Claassen (67) is nie net ’n bekende langafstand-atleet in Kareedouw nie, maar neem ook ge-reeld aan wedlope in Port Elizabeth, Despatch, Uitenhage, Grahamstad, Graaff Reinet en om-liggende dorpe deel.

Voorheen was dit Kaapstad en Durban.

In 1986 het hy die Comrades-ma-rathon voltooi – ten spyte van ’n maagseer, ontwatering en nier- en lewerversaking. Toe volg die Twee Oseane-marathon – drie keer.

En nog talle meer.

In Julie, verlede jaar moes hy noodgedwonge sy hardloopskoene ophang: ’n hartaanval.

Maar vandag, meer as ’n jaar la-ter, is daardie skoene weer afgestof en gereed om die pad te vat. Al is dit teen ’n meer besadige pas.

Claassen, wat oor die jare van elke kilometer noukeurig boekhou, glimag trots: “Ek is baie lief vir hardloop. Dit is absoluut my pas-sie.

“Ek kan heeltemal afskakel. Ek hoef aan niks te dink nie, en boonop is ek in die natuur. Vir my is dit ’n vorm van ontspanning.”

Gedrewe, doelgerig en
kanniedood

Maar hy was nie altyd ’n hardloper nie.

In 1959 het Claassen op agtjarige ouderdom die eerste keer met hardloop – spesifiek die Comrades-marathon – kennis gemaak. Al was dit oor die klankgolwe van ’n krakerige klein radio in sy ouerhuis in Port Elizabeth.

Hy lag: “Ek het net dadelik gek ge-raak daaroor en geweet: eendag gaan ek dié Comrades hardloop.”

Maar dit sou eers jare later wees wat sy hardloopskoene met die teerpad kennis maak.

Op tienjarige ouderdom het hy vir die eerste keer rumatiekkoors opgedoen. Drie jaar later weer. En nog drie keer daarna.

Hy vryf deur sy spierwit hare: “Dit het my hartspier beskadig en ek kon nie aan enige sport deelneem nie.”

Vasberade om nie sy kleintyd-droom so maklik prys te gee nie, het Claassen in 1966 – sy eerste jaar op hoërskool – versigtigheid na die wind gegooi en krieket en rugby gespeel. Landloop het gou gevolg.

Twintig jaar later het hy sy eerste – en enigste – Comrades-marathon in 10.56.38 sekondes voltooi. Nie sy ideale tyd van nege ure nie.

Die rede?

’n Maagseer waarvan hy nie be-wus was nie.

Opgeswel en deurmekaar het hy al stadiger begin stap – self na die verkeerde kant toe.

Claassen frons liggies, asof hy dit steeds nie kan glo nie: “By die 21km-merk het veel stadiger deelnemers my begin verbysteek, ’n paar kilometers later kon ek niks meer binnehou nie.

“Ek het ontwater en akute nier- en lewerversaking opgedoen.”

Die Sondag na die wedloop het hy ’n hartaanval gehad.

Dít het hom egter nie van die teerpad en uitmergelende wedlope weggehou nie.

Vier tot ses wedlope per jaar het gevolg, toe 48 per jaar.

Hy glimlag van oor-tot-oor: “Ek het al aan honderde wedlope deelgeneem.

“En elkeen daarvan, asook elke oefening is in ’n boek aangeteken – my hardloop-bybel.”

Nóg wedlope op sy kerfstok sluit in die Twee Oseane-marathon (drie keer), Settlers-marathon, Bruin-tjieshoogte-marathon, Oorie Berg-halfmarathon (twee keer), Grahamstad tot Port Alfred Settlers Marathon (vyf keer), 21km Voet van Afrika-wedloop, Knysna Oesterfees-wedloop en verskeie plaaslike padwedlope.

Terugslag

Tóé die terugslag op 19 Julie 2018: ’n hartaanval terwyl hy oefen – slegs 2km van sy huis af.

Na ’n besoek aan die plaaslike dokter en kardioloog, is sy een hartklep met ’n staalklep in Januarie, vanjaar vervang.

Hy dink terug na die onlangse gebeurtenis wat sy passie amper verkrummel het: “Ek het gedink dat ek nie weer sou hardloop nie.”

Altyd ’n harloper

Maar slegs twee dae na hy uit die hospitaal ontslaan is, het hy vir 400m gaan stap – al het dit hom amper 15 minute gevat.

In Augustus het hy aan sy eerste padwedloop deelgeneem – al het hy dit gestap. Nog het gevolg.

Claassen lag: “Ek kan nie van wedlope wegbly nie. Ek gee nie om oor die tyd waarin ek dit voltooi nie; ek wil net deelneem. Die belangrikste is om nooit tou op te gooi nie.

“Ek mag dalk stadiger loop, maar my bene sal aanhou tot by die eindstreep.”

You need to be Logged In to leave a comment.