DIE komende naweek word ’n reuse-poging by die Fountains Mall-winkelsentrum in Jeffreysbaai aangewend om geld in te samel vir Inge Airoldi (18) wat in Kaapstad vir breinkanker behandel word.
Dié matriekleerling van Global Leadership Academy (GLA) het in Julie oor erge hoofpyne begin kla. Tydens die rekordeksamen het swart kolle in haar sigveld begin verskyn; en gedurende die eindeksamen het dit vererger. Moegheid het ingetree en haar nekspiere het styf geword. Sy het dubbelvisie begin ondervind.
Sy is na ’n neuroloog verwys, en ’n MRI-skandering het ’n gewas die grootte van ’n klein vuis in haar breinstam getoon. Die gewas, wat die spinale breinvloeistof verstop en drukking veroorsaak het, staan bekend as ependimoom WHO graad 2. Die rare breingewas, wat meestal by jong kinders voorkom, kan in die ruggraat versprei en verder groei.
Inge se ma, Bettina, het vertel, “Ons het nie ’n mediese fonds nie, maar met behulp van vriende en gebede was professore in die Kaap bereid om na haar om te sien.
“Nadat die drukking onder beheer gebring is, is sy op 8 November deur professore Allen Taylor en David Le Feuvre ge-opereer. In ’n 7-uur operasie is 90% van die gewas verwyder sonder neurologiese probleme.”
Radio-onkoloë het ná ’n lumbale punksie besluit om bestraling toe te pas. Ná 22 dae in die hospital is Inge op 22 November ontslaan, maar het weer op 26 November die on-koloë gaan spreek, wat die pad vorentoe sal aandui.
Bettina is oorstelp deur die publiek en vriende se meelewing.
In haar eie woorde: “Ons is oorval deur hulp van mense, gebede en geldelike bydraes. Ons het later nie meer geweet hoe om dankie te sê nie.
In die moeilike dae in die hospitaal het ons geweet mense oor die wêreld heen bid vir Inge.
VERVOLG OP BL. 3