DIE nuutgestigde toneelgroep, Youth Alive van Humansdorp, het tans ’n treffende dramastuk op die planke – Voices and Choices.
Die drama, geskryf en afgerig deur Frieda du Preez, spreek verskeie sosio-ekonomiese eu-wels aan: drank en dwelmmisbruik en die negatiewe impak hiervan op die samelewing – veral tieners.
Die toneelstuk is nie net bloot daarop gerig om te ‘tref’ nie, maar om op te voed, in te lig en uiteindelik hoop te gee dat alle omstan-dighede te bowe gekom kan word.
Du Preez sê: “Die karakters wat voor verskillende gebeurlikhede te staan kom, moet tussen twee stemme kies – die Heilige Gees en die duiwel.”
Die begin?
“’n Boodskap van die Here,” sê Frieda. “Die Here het my in Februarie, vanjaar om 03:00 met die idee van die drama wakker gemaak.”
Van daardie dag was daar geen keer aan die ywerige en talentvolle jong vrou nie. Sy het dadelik aan die dramateks begin skryf en lede vir die groep gewerf.
Ses maande later is hulle verhoog-gereed.
Die groep, wat deel is van die River of Glory Ministries op die dorp, het onlangs ’n suksesvolle, optrede by die Blouberg Sentrum in Kareedouw op die planke gebring. Dit ter voorbereiding van hul toer na Johannesburg waar hulle vanaf 11 tot 16 Desember by die Judah Ministries gaan optree.
Verdere vooroptredes vind plaas op Vry-dag, 23 Augustus om 19:00 by die Hankey Vergadering Kerk, en op Vrydag, 6 September by die Pinkster Protestante Kerk in Humansdorp.
Toegang is gratis.
Skenkings om hul toer na Johannesburg te help finansier, is welkom: Capitec Bank, Youth Alive, rekeningnommer 1655862535, takkode 470010.
Vir inligting, skakel Du Preez by 082 922 2252.