OUWÊRELDSE basaar met keurige gebak en kraakvars produkte . . .
Die NG Moederkerk Humansdorp hou op Saterdag, 6 April vanaf 08:00 basaar by die kerk op die hoek van Hoof- en Kerkstraat.
Dié feesbasaar is ter viering van hul 170ste verjaardag.
Tafels gaan kreun onder ontbyt, pannekoek, worsbroodjies, poeding, groente, vrugte, jaffels, vleis, braaivleis, vars vleis, kerrie-en-rys, gebottelde produkte en gebak.
Daar is ook ’n potpourri tafel met ’n verskeidenheid van geskenke en naaldwerk-produkte.
En wat is ’n basaar nou sonder ’n snuffeltafel?
Vir die kinders is daar ’n springkasteel, sagte speelgoed en ’n kindertafel.
’n Teetuin sal sitplek bied vir dié met moeë voete en droë kele.
’n Veiling vind om 09:30 plaas. Hier kan basaargangers meeding om ’n jagpakket. Die pakket sluit die skiet van vyf springbokke by Hanover in, asook slaapplek en braaigeriewe.
’n Gholf-naweek vir drie persone by een een van Suid-Afrika se top tien gholfbane – die St Francis Links – is ook op die spel, asook ’n naweek vir vier persone by Simbonga Wildsplaas net buite Jeffreysbaai.
Vir meer inligting, skakel Tonie by 082 520 8282 of Dons by 082 657 0202.