In Du Plessisstraat, Humansdorp, net verby die Nico Malan Hoërskool, is die begraafplaas. Breë klipmure gee ’n aanduiding van waar die oudste grafte geleë is, maar die begraafplaas het mettertyd vinnig vergroot en strek ver buite die grense van hierdie mure.
Volgens Humansdorp se Groei en Bloei 1849 -1975 skryf E.J. Gerryts dat die NG Kerk in 1866 mure opgerig het teen ’n totale koste van £147, in die vorm van ’n vierkant met sye van 200 voet (ongeveer 61 meter) elk, vier voet hoog, drie voet breed en met ’n spits rand bo.
Drie sye van die mure staan nog regop en hoewel daar plek-plek krake sigbaar is, steeds stewig. Dit is waarskynlik die oorspronklike mure.
Tydens ’n onlangse besoek was die begraafplaas netjies, gras onlangs gesny en het goed versorg gelyk.
Wanneer na koerantberigte oor die jare gekyk word, is dit duidelik dat die area nie maklik is om skoon en netjies te hou nie, en van tyd tot tyd was daar klagtes in die pers. Dit is egter niks nuut nie, want 104 jaar gelede verskyn in De Re-Echo van 13 Februarie 1918: “Wij wenses met alle ernst de aandacht van de plaatslike Stadsraad te vestigen op de allertreurigste toestand waarin het dorps kerkshof verkeert.”
Op Woensdag 28 Augustus 1918 verskyn daar terugvoer na ’n vergadering wat die vorige Vrydag gehou is, en daar word voorgestel dat “deze publieke vergadering verzoekt de Stadsraad het Kerkhof in behoorlike orde te doen brengen”.
Welgedaan aan die munisipaliteit!
Ongelukkig is daar morsjorse wat vullis-sakke leeg maak in die gronde van die begraafplaas en dieselfde gebeur ook by die museum.