Humansdorp verloor steunpilaar

DIE voorsitter van die beheerraad van die Protea-dienssentrum, Manie Goeda (56), het twee weke gelede Kouga Express-korrespondent ANTHONY AUGUSTUS gekontak rondom die toestand van die eens pragtige gebou wat in Arcadia, Humansdorp geleë is.


DIE voorsitter van die beheerraad van die Protea-dienssentrum, Manie Goeda (56), het twee weke gelede Kouga Express-korrespondent ANTHONY AUGUSTUS gekontak rondom die toestand van die eens pragtige gebou wat in Arcadia, Humansdorp geleë is.

Wyle Manie Goeda. Foto:VERSKAF

Goeda is egter ’n paar uur voor die afspraak skielik oorlede.

Volgens Goeda se vrou, Clarena Goeda, was hy ’n diabeet en het hoë bloeddruk gehad waarvoor hy me-dikasie gebruik het.

“Manie het [daardie] Maandag soos gewoonlik sy medikasie gebruik en nog genoem dat hy uitsien na die onderhoud met die Kouga Express. Hy het besluit om huis toe te kom toe hy duiselig gevoel het. Hy het toe met die taxi tot by die huis gekom en ek het sommer onmiddelik die suurstofmasjien op hom gesit. Hy sou later egter weer na die kliniek gaan,” het sy met trane in haar oë vertel.

Sy noem dat die ambulans dadelik laat kom is en dat hy deur die ambulans personeel dood verklaar is.

Pastoor Jimmy Magielies, wat vir bykans 23 jaar saam met Goeda by die Humansdorp Sekondêre Skool se koshuis gewerk het, het ’n gebed by die Goeda-woning kom doen.

Hy noem dat Manie ’n regte steunpilaar vir die koshuis was, altyd ’n goeie sin vir humor gehad het en goed oor die weg gekom het met die onderwysers en leerders.

“Hy was ’n persoon met ’n visie en het altyd alles ingesit as hy met ’n taak besig was. Manie het sowat vier jaar gelede weens siekte die werk gelos, maar hy was ’n rolmodel en ’n voorstaander by die unie (PAWUSA). Hy het groot respek afgedwing by die departement van onderwys, al was hy net ’n gewone werker,” aldus Magielies.

Sy vrou het voorts genoem dat Manie baie uitgesien het na hul 28ste huweliksherdenking op Saterdag, 31 Julie. Nou word hy op hul huweliksherdenking begrawe.

Die diens vind om 10:00 by die huis in Nerinastraat in Gill Marcus plaas.

Benewens sy vrou, laat hy vier kinders en 10 kleinkinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.