EEN van Port Elizabeth se grootste jaarlikse sportbyeenkomste is afgelas.
Die Ironman Afrika-kampioenskap, wat van 29 Maart tot 15 November uitgestel is nadat die koronavirus in die stad uitgebreek het, sal nou eers aanstaande jaar plaasvind. Die driekampbyeenkoms sal weer op 14 Maart 2021 aangebied word. Die organiseerders sê in ’n verklaring hulle was vroeër vanjaar hoopvol dat hulle in November ’n suksesvolle byeenkoms sou kon aanbied, maar het ná samesprekings met owerhede daarteen besluit. Atlete wat vir die byeenkoms geregistreer is, sal volgens organiseerders per e-pos meer inligting ontvang.
Lehlohonolo Mfana, burgemeesterskomiteelid vir sport, ontspanning, kuns en kultuur, sê dit is jammer dat die byeenkoms afgestel moes word en meen dit is ongetwyfeld ’n verlies vir toerisme en sou ’n hupstoot vir die stad se ekonomie gewees het.
“Dit is egter weens Covid-19, iets wat buite ons beheer is. Maar volgende jaar se byeenkoms sal plaasvind en die stad is aan die werk om te verseker ons sal teen daardie tyd gereed wees,” sê Mfana. – CARA-LEE DORFLING