Geregtigheid het eindelik geseëvier in die bykans drie-jaar-lange hofsaak waarin die moordenaar van Jourin (Cardo) Jacobs (23) vir die daad gestraf is in die Humansdorpse Landdroshof verlede week.
Jacobs se familie, veral sy ma Sarie, is baie verlig dat Shaundray (alias Shauna) Le Grange skuldig bevind is.
Sarie het aan Kouga Express gesê dat haar seun glad nie by enige bendebedrywighede betrokke was nie en het vir sy rugby en brigade geleef. Verder het sy genoem dat sedert die moord op haar seun op 5 Oktober 2019 sy slape-lose nagte gehad het en gewroeg het oor waarom en wie haar seun doodgeskiet het.
“Hy was in die vroeë oggendure daai dag sonder enige rede deur ’n bloeddorstige maniak geskiet,” het sy vol emosie gesê.
“Ek sal nooit weer my seun sien nie, nooit weer sy glimlag en pragtige geaardheid weer ervaar nie.”
Le Grange is op 15 Oktober, presies tien dae nadat Jacobs geskiet was, deur intensiewe ondersoekwerk deur die polisie in Gqeberha naby Shauderville aangekeer en hy is positief verbind met die moord.
Die hof het bevind dat hy vir Jacobs van agter deur die kop geskiet het wat tot sy dood gelei het. In sy heel eerste hofverskyning in die Landdroshof het Le Grange destyds genoem dat hy ook teregstaan op klagtes van openbare geweld op Hankey toe wetstoepassers hom aangekeer en aangekla het in ’n vroeëre voorval.
Die landdros het Le Grange soos volg gestraf; klagte een (moord) – dertien jaar; klagte twee (onwettige besit van vuurwapen) – twee jaar en klagte drie (onwettige besit van ammunisie) – een jaar. Hy is dus 16 jaar direkte tronkstraf opgelê vir die misdaad.
Wat die Hankey voorval betref moet hy nog deur die Hankey hof gestraf word.