Jeffreys se troupand-raaisel opgelos

DINK net . . . jy tel die Sondagkollekte en, tussen munt en noot, vind jy n groot goue troupand.


DINK net . . . jy tel die Sondagkollekte en, tussen munt en noot, vind jy n groot goue troupand.

Jy wag en wag – amper drie weke lank- maar niemand kom na vore, niemand doen navrae nie.

Wat doen jy dan? Jy klim op die preekstoel en vertel die gemeente daarvan, net soos ds. Evert de Kock, in Julie 2001 nog herder van die NG Gemeente Jeffreysbaai, destyds gedoen en die gemeente gevra het wie weet wat van die goue ring.

“Troupand in kollekte laat gemeente proes” het die plaaslike koerant in die daaropvolgende week berig en almal het bly wonder wie se ring dit kan wees.

Nou, 18 jaar later het Jacques du Plessis dié raaisel in ’n biegsessie op sy Facebook-blad opgelos.

“Ek moet bieg. Net na my egskeiding was dit my troupand wat ek in die kollekte gegooi het. Ek het geen nut daarvoor gehad nie en dit was my manier om oor dit te kom. Ek lag nou lekker daaroor, maar daardie was ’n moeilike tyd in my lewe.”

Du Plessis, wat onlangs ná vier jaar se werk in Amerika na Thornhill in die Kouga-streek teruggekeer het, vertel hoe swaar dit vir hom destyds was toe sy huwelik nie uitgewerk het nie.

“Ons is al in April geskei en teen Junie het ek nog my trouring gedra. Toe die kollektebord verbykom, toe dag ek ‘nou moet ek die emosionele band breek’ en ek haal die ring van my vinger af en sit dit in die bord.”

Hoe het hy seker gemaak dat die gemeentelede langs hom nie sien nie?

“Jy weet mos hoe werk dit. Wanneer mense geld in die bord sit, vou hulle hul hande om die geld sodat niemand hoef te sien hoeveel daar ingesit word nie. Ek het só met die ring gemaak.”

Ook geld ingesit?

“Ja, natuurlik!”

Later het Du Plessis besluit om ’n briefie te skryf en te verduidelik van die ring. Die volgende Sondag reeds was die briefie saam met sy bydrae in die kollektebord.

Duidelik het niemand dit gelees nie, want so drie weke later het ds. De Kock van die preekstoel af gepraat oor die troupand en dat hy dit in die kluis gaan bêre tot die baas na vore kom.

“Ek dink hulle het net die sente en die note getel en moes gedink het die papiertjie kom maar van iemand wat dit wou laat lyk hy gee iets,” sê Du Plessis laggend. “En ek het nogal daarin geskryf verkoop die ring en hou maar die geld.”

‘n Paar jaar later het Du Plessis weer die knoop deurgehaak, maar toe werk dit ook nie uit nie. Dié keer het hy sy ring verkoop.

In 2015 is hy na Iowa in Amerika om daar in die landboubedryf te werk.

Du Plessis is nou nege jaar lank enkello-pend. As daar ooit weer n regte persoon oor sy pad kom, sal hy trou, maar net nie nou nie.

“My kind is nou my alles. Dit is ook die rede hoekom ek teruggekom het uit Amerika na-dat ek genoeg geld gemaak het om hier ‘n toekoms te kom bou. Dit sal nie regverdig teenoor my seun wees as ek nou iemand anders inbring nie.”

Maar het die kerk intussen sy ring ver-koop?

“Ek weet nie. Ek sal kerk toe moet gaan om te gaan hoor,” sê Du Plessis laggend.

You need to be Logged In to leave a comment.