DIE onlangse val van ’n groot boom in Jeffreysbaai het die gemeenskap met ’n geweldige leemte in hul harte gelaat, veral omdat dié gemeenskapsleier selfs op sy gevorderde ouderdom steeds ’n steunpilaar vir beide oud en jonk was.
Pieter Mathee, wat in Januarie op die ouderdom van 91 jaar oorlede is, het diep spore in mense se lewens getrap, het een van die inwoners, Christa Venter, vertel.
“Hy was ’n groot aanwins vir Jeffreysbaai en het baie vir die omgewing gedoen. Nie net was hy adviseur aan vorige raadslede oor finansies nie, maar hy het ook op verskeie komitees gedien en waardevolle insette gelewer wat my werksafdeling by die munisipaliteit betref.
“Hy het waarlik ’n besondere bydrae gelewer en goeie dade vir die dorp gedoen en ek hoop dat sy storie ander inwoners sal aangryp en laat besef dat hulle ook iets mooi vir hul dorp kan doen,” het Venter bygevoeg.
Mathee, wat in 1988 deel geword het van die Jeffreysbaai-gemeenskap, was ’n kundige op die gebied van munisipale finansies en op die ouderdom van 23 jaar, het hy die jongste stadstesourier in die land geword met sy aanstelling in Lydenburg.
Vir die volgende 27 jaar het hy as stadstesourier in Pietersburg gewerk voordat hy in 1984 hoofdirekteur van finansies by Johannesburg se Stadsraad geword het.
Mathee was onder meer ook president van die Instituut vir Munisipale Tesouriers en Rekenmeesters en betrokke by die opleiding van finansiële munisipale amptenare regoor die land voordat hy in 1991 afgetree het.
Sy aftrede het egter nie beteken dat oom Pieter, soos hy liefderik in Jeffreysbaai bekendgestaan het, skielik op sy louere gaan rus het nie.
Dit het hom eerder die geleent-heid gegee om sy aandag op die gemeenskap toe te spits, waar sy deur oopgestaan het om raad asook ’n skouer om te huil, aan enigeen te gee wat dit nodig gehad het.
Oom Pieter en sy vrou, tannie Cielie, was ook soos Vinkel en Koljander- of eerder “Pietercielie” soos hulle hulself aan mense voorgestel het – en saam het hulle gesorg dat behoeftige gesinne elke aand iets het om te eet.
Tydens Kouga Express se besoek aan die 88-jarige tannie Cielie by die aftreeoord waar sy en oom Pieter vir 16 jaar gebly het, het sy trots gewys na die muur langs die voordeur, waar die woorde “Pietercielie” in sierskrif op ’n groen bordjie pryk.
“Dit is altyd hoe ons onsself aan mense voorgestel het en dan lag hulle so lekker,” het sy met ’n breë glimlag vertel.
“Pieter was ’n fantastiese man en tot op die einde was hy vasberade om iets vir andere te doen. Hy het altyd siek mense besoek en nooit moed opgegee nie,” het tannie Cielie gesê.
Sy het later liefdevol na sy foto op die koffietafel gekyk terwyl sy met haar kierie speel en gesê: “Ek onthou steeds die dag toe hy die eerste keer vir my kom kuier het. Dit was ’n Sondagmiddag iewers tussen 1950 en 1953 en hy het nog op ’n fiets tot by my gery. Ek het dadelik geweet dat dit die man is met wie ek sou trou en daarna was ons sommer gekys,” het sy laggend gesê.
“Ons was 68 jaar getroud so die vermisting is groot. Wat ek veral baie mis, is die goeie maats wat ons was. Ons kon ure lank net sit en gesels oor alles en nog wat. Ek het altyd saam met hom krieket en tennis gekyk, maar dan gesels ons eenstryks deur terwyl die TV speel,” het sy bygevoeg.
Een van die egpaar se vier kinders, Marita Mathee Webb, het vertel dat haar pa vinnig agteruit gegaan nadat hy en tannie Cielie slegs twee maande gelede ’n dogter aan die dood afgestaan het.
“’n Maand daarna is my pa dood. Hy het dit baie groot gevat. Hy mag weg wees, maar ons is dankbaar vir sy lewe.
“Een van die beste herinneringe wat ek as kind van hom het, is al die liefde wat hy vir ons gegee het,” het Webb gesê.
“Hy het sy alles gegee vir sy ge-sin en vir ander mense en dit is ’n wonderlike nalatenskap.”