’n Gesin het die afgelope naweek in hul huis in Jeffreysbaai saam teen twee rowers baklei.
Twee mans, wat albei met ’n mes gewapen was, het Sondagoggend omstreeks 03:00 op ’n huis in Saffronstraat in dié gewilde Oos-Kaapse vakansiedorp toegeslaan.
Volgens die polisie het hulle ’n skuifdeur oopgedwing en toegang tot die seun se kamer verkry.
Die seun het wakker geword terwyl die rowers goed probeer steel het.
Hy het geskree en sy pa en ma het hom kom help.
Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê ’n stoeigeveg het tussen die gesin en die twee rowers uitgebreek voordat die rowers weggehardloop het.
Nkohli sê die rowers het met drie selfone, ’n kamera en ’n sak met kontant weggekom. Niemand is in die voorval beseer nie. Die polisie soek steeds na die rowers.
- Enigeen met inligting oor die voorval kan die Jeffreysbaai-speurtak by 082 441 8160 skakel.