HAWELOSES slaap op vuil matrasse en ou komberse op die vervalle parkeergebied, terwyl vullis en menslike ontlasting oral lê.
Die onkruid staan enkelhoogte en die vuiste swaai gereeld tydens benewelde woede-uitbarstings.
Dít is die werklikheid waarmee radelose sake-eienaars en inwoners naby Goedehoopstraat en Salamanderstraat in Jeffreysbaai te doen het.
Diegene is nou keelvol om soggens die rommel voor hulle deure te verwyder.
Kidz@Home Kleuterskool eienaar, Aranda Benadie, sê: “Ons moet elke oggend vroeg die vullis in die straat voor die kleuterskool optel – nog vóór ouers hulle kinders hier kom aflaai. Tot gebruikte kondome, drankbottels en toiletpapier lê hier rond.
“Ons kan nie die voorkant van ons gebou gebruik nie, want dan moet ons kyk hoe mense hulself verlig – en dit is nie net urineer nie.
“Hulle handel oop en bloot met dwelms en baklei gereeld – vloek, plunder en vandaliseer.”
Volgens haar het verskeie ouers alreeds hul kinders uit die skool verwyder en voornemende ouers draai in hulle spore om wanneer hulle die gemors by die parkeerterrein oorkant die skool sien.
“Ek pleit tevergeefs by die Kouga-munisipaliteit,” sê sy. “Jy bel hoeveel keer en elke keer word jy belowe hulle kom nou. As hulle opdaag, word die haweloses weggevat, om môre maar weer daar te sit.”
Een vrou sê sy is al tot in die volgende generasie gevloek omdat sy die haweloses aange-vat het oor hul gedrag.
Nog ’n eienaar sê hy het al hoeveel inbrake gehad en weet dit moet die haweloses wees wat snags daar slaap.
“Ek is al op van kla,” sê hy moedeloos. “Ek weet nie meer wat om te doen nie.”
’n Ander inwoner sê wanneer die ‘lus’ te groot word, doen hulle die daad net daar – vir almal om te aanskou.
Kouga Raadslid vir Gemeenskapsdienste, Daniel Benson, sê die parkeerterrein – die wortel van al die kwaad – is privaat-eiendom. “Dit beperk wat die Kouga-munisipaliteit kan doen,” sê hy.
“Regsmening is ingewin, en in ooreenstemming hiermee het die munisipaliteit die saak met die eienaars van die eiendom opgeneem.”