Jeffreysbaai-jongman pak vullis met mening

HY lyk bietjie moeg toe ons gesels, maar wat verwag mens van ‘n jongman op wie se skouers die verwerking, verpakking en vervoer van ‘n vrag Kouga-vullis rus.


HY lyk bietjie moeg toe ons gesels, maar wat verwag mens van ‘n jongman op wie se skouers die verwerking, verpakking en vervoer van ‘n vrag Kouga-vullis rus.

Dwayne Taljaard en sy knap span maak korte mette van hope vuilgoed, wat hulle sorteer, verpak en per vragmotor na Port Elizabeth stuur.

Die besigheid het met sy broer, Shaun, begin, maar is nou die ‘hoop’ van Dwayne en sy ma, Bernadette.

“Dis rof om ‘n besigheid van ‘scratch’ af op te bou,” sê die 25-jarige pa wat die Kouga Waste & Metal Recycling met sy ma bestuur.

Hy vertel dat hy, na hy vroeg verlede jaar begin sake doen het, die proses ge-stroomlyn het sodat die organisasie effektief kan hardloop. Die sukses daarvan word bewys deur hul resultate: “Ons ry tonne weg,” vertel Dwayne. “In enkele maande het ons al 30 ton ysterhoudende materiaal verwerk en na Port Elizabeth vervoer.”

Hul perseel in die industriële gebied is die ontvangplek vir die streek se weggooigoed.

“Ons kry ysterhoudende (ferrous) en ander (non-ferrous) materiaal van verskeie bronne – ’n kruideniersgroep, metaalplek, loodgie-ters en natuurlik van die plaaslike inwoners,” verduidelik Dwayne.

Die siklus behels dat die goedere na ontvangs, georganiseer, sorteer en verwerk word. Daarna volg deeglike verpakking, en dan eers die aanry na die stad.

“As ons dit nie deeglik doen nie, verwerp die ontvangers, soos SA Metals dit, en al die harde sweetwerk is verniet. Vandaar word die materiaal verder verwerk, ysterhoudende items gesmelt en geskeep vir herwinning.”

Patrick Katoa en Gilbert Dzimau Lumando weeg en stroop die materiaal.

“Hulle moet hul besigheid kén. Dan is daar die vragmotorbestuurder, Piet.

“Hulle vorm ‘n sterk span.”

Ma Benadette se hande staan vir niks verkeerd nie. Dwayne sê sy klouter sommer self in die trok en dryf hom as dit no-dig is.

En tuis? Daar is die 16 maand-oue Jayden Nicolai. Wanneer Dwayne oor hom en sy Sandie Gomez praat, glimlag hy sag – en mens sal nooit raai dat ‘optelgoed’ sy besigheid is nie.

Wat maak ons anders?

Daar is soveel soortgelyke ondernemings in die streek. Wat maak Kouga Waste & Metal Recycling anders?

Dwayne raak ernstig. “As jy na jou verskaffers kyk, sal hulle lojaal bly. Ons gee die beste pryse want op die manier bied ons aan mense ‘n kans om ‘n bestaan te maak. Ons bly bestendig en toegewyd.”

Hy lag as hy oor sy ma praat. “Ek moet die sakekant vashou, want sy is te goed. Sy sal sommer ‘n ekstra R10 gee, en om van haar liefde vir die rondloperhonde om ons nie eens te praat nie . . .”

Skakel Dwayne Taljaard by 082 293 4630 of epos dtaljaard20@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.