Topskaakspeler, Beryl Christodoulou (regs), rig nagenoeg sewe jaar skaak by die Laerskool Jeffreysbaai af waar meer as 70 ywerige skaakspelers daagliks diep oor hul skaakborde buig om hul beste skuiwe te maak. Dit is duidelik: híér word die spel met groot entoesiasme en erns beoefen. Klara Belle (links) is gereed om haar spelvernuf op te knap. Foto’s:MONIQUE BASSON


n GOEIE skuif is al wat saak maak – óf dit nou die koning, toring, dame, pion, ruiter of loper is.

Beryl Christodoulou was in Graad 8 toe sy vir die eerste keer aan ’n skaakbord geraak het – ’n uitdaging van haar skaakspeler-broer. Toe wen sy, en dit is waar die gogga gebyt het. ’n Paar maande later was sy die skool-skaakkampioen, vir vyf jaar. Vandag rig sy Graad R- tot Graad 7-leerders by die Laerskool Jeffreysbaai af.

“Toe hulle my vra of ek betrokke wil raak by skaak, het ek dadelik ingestem,” vertel Christodoulou wat nou al vir nagenoeg sewe jaar leerders afrig – van 14:00 tot 15:00 elke dag van die week. “Dit gee my die geleentheid om met kinders te werk en hulle te help om vaardighede te ontwikkel wat hulle in hul lewe kan toepas.

“Skaak is ’n sport wat dinkwerk en strategiese beplanning verg – net soos die lewe.”

Dit is eerstehandse kennis wat Christodoulou, wat al vir meer as 40 jaar skaak speel en afrig, só laat praat. Immers pluk sy al jare die vrugte van die denk-dissipline wat skaak in haar lewe gebring het.

Laerskool Jeffreysbaai skaakklub

Waar meer as 70 ywerige spelers diep oor skaakborde buig om hul beste skuiwe te maak, is dit duidelik dat die skaak-koors hier erg uitgeslaan het. Dié spel word met groot entoesiasme en erns beoefen. Met een doel voor oë: om te wen. Volgens Christodoulou het die leerders vinning die reëls bemeester. Reeds gedurende die eerste jaar het die klub met meer as tien leerders in die OP-skaakspan gespog en met nage-noeg 60 spelers oor die afgelope ses jaar. Dié skool het jaarliks die meeste spelers in die OP-span en spog met die meeste spelers by skaak-proewe.

Christodoulou lag trots: “Wanneer die Jeffreysbaai-skaakspelers by ’n toernooi instap, vul ’n gesamentlike sug die lug – hulle weet ons kom om te wen.

“Ons is die afgelope vier jaar top in ons liga.”

Deel kennis

Christodoulou doen nou ’n beroep op skaakspelers – oud en jonk – om hul kennis en ervaring met die leerders te deel. “Nie net sal dit die leerders se spel opskerp nie, maar hulle ook blootstel aan verskillende maniere van speel,” sê sy.

Beloning

Wat geniet sy die meeste van skaak afrig? “Die leerders se sukses en die herstel van hulle menswees. Ek glo die sport gaan nog baie deure vir ons leerders oopmaak, maar vir nou hoop ek dat die spelers toegewyd sal bly, hul spelvernuf deurlopend sal slyp en hul staal sal wys by die toernooie wat vir die jaar beplan word.”

Skakel Christodoulou by 079 593 2938.

You need to be Logged In to leave a comment.