’n Groep vrouens van Jeffreysbaai het besluit om hulle gesondheid in eie hande te neem en ’n oefengroep vir die dorp se vroue te begin.
Hulle ontmoet tans op Dinsdae en Donderdae om 18:00 by die oop grond in Uysstraat, oorkant die NG Kerk.
Formidabele vrou, Liezl Slater, het ’n paar jaar terug na Jeffreysbaai verhuis vanaf Springs in Gauteng.
Sy het destyds in Springs so ’n oefengroepie begin, en het, na aanlei-ding van iemand se navraag op so- siale meda, besluit om dieselfde tipe groep hier tot stand te bring.
Volgens Liezl is daar baie mense wat weer wil begin beweeg en uitkom in die gesonde, vars lug na maande se inperking en rusbanksurf.
Dus, het die groepie baie vining gewild geword en vroue van die dorp het ingestroom.
Die groep bestaan tans net uit dames en hulle lag en gesels en geniet mekaar se geselskap terwyl hulle oefen.
Nadat hulle in Uysstraat vergader het en daar ’n paar opwarmingsoefeninge gedoen het, vaar die prosessie af see se kant toe om so bietjie die bloed te laat sirkuleer asook om die asemrowende mooi tonele te aanskou wat ons dorpie bied.
Dus is dit goed vir liggaam, én siel. Hulle stap hoofstrand se kant toe, waar hulle met hulle aankoms weer ’n paar lekker oefeninge doen.
Daarna is dit weer terugstap na hulle oorspronklike ontmoetings-punt.
Die dames oefen dan lekker saam, elk met ’n oefenmaatjie asook hulle eie gewiggies waarmee elkeen oefen.
“Ons lag en gesels en het sommer baie pret. Ons gaan lekker challenges hou om maer te word en saam gaan stap oor naweke”, sê Slater.
Almal is welkom, solank jy gemotiveerd is om gesond te leef, ’n posi-tiewe gesindheid en ’n lekker sin vir humor het.
’n Beter manier om ons nuwe vlak een–inperkingsverslappings te vier, kan daar nie wees nie.
“Hoe meer ’n mens beweeg, hoe meer WIL mens beweeg” is een van die wyshede wat op hulle Facebook–blad, “Let’s do it!”, verkondig word.
As jy wil aktief word en sommer lekker saam kuier terwyl jy dit doen, is hierdie beslis die groep vir jou.