MEER as ’n dekade.
Dit is hoe lank die Kouga-munisipaliteit al sloer om iets daadwerkliks te doen aan ’n verlate eiendom in Wavecrest, Jeffreysbaai – wat ’n al hoe groter steen des aanstoots word.
Volgens Pik Schoeman (72), ’n inwoner van die buurt, is hulle raadop oor dié eiendom wat deur hawelose bewoners beset word.
“Dit wil my voorkom asof niemand by die munisipaliteit iets aan die situasie wil doen nie,” sê hy. “Hulle antwoord nie eers my herhaalde navrae oor die huis sedert Oktober 2019 nie.”
Schoeman sê hulle het op 20 Oktober 2019 ’n petisie, onderteken deur 19 inwoners, aan die munisipaliteit oorhandig. “Tot op hede het ons nog géén terugvoering ontvang nie,” sê hy.
Volgens hom het die eiendom, wat blykbaar nié aan bouregulasies voldoen nie, geen deure of vensters nie en is ook nie omhein nie.
Hy vervolg: “Die gebou is gepleister, maar nie geverf nie. Die erf is met bosse en bome oorgroei. Nie net hou dit ’n groot brandgevaar in nie, maar dit skep ook ’n tuiste vir muise en slange.
“Ongewenste persone, wat tot die hoë misdaadsyfer in die gebied bydra, slaap snags daar en gebruik die leë vertrekke as ’n toilet. Die reuk is ondraaglik. Dit is ’n gesondheidsrisiko.
“Verder verlaag dit die die waarde van aangrensende eiendomme.”
Kouga Gemeenskapsdienste Portefeulje Raadslid Daniel Benson, sê: “Die wetstoepassingsafdeling van die munisipaliteit het die klag opgevolg, maar dit is ongelukkig ’n privaat wo-ning en ons het nie die mag om mense uit private eiendomme te verdryf nie.
“Die ideaal is dat die eienaar van die eiendom die polisie moet nader vir duidelikheid oor die proses wat hy kan volg as mense onwettig daar bly.
“Die munisipaliteit se omgewingsgesondheidsbeamptes het die perseel geïnspekteer en sal die aangeleent-heid na ons geboubeheerafdeling verwys vir verdere optrede, aangesien dit lyk asof die konstruksie van die huis laat vaar is.”