VERVOLG VAN BLADSY 1

Oorleef

Camons frons: “My vierde kat is na ontbyt enkele Sondae gelede skielik soek.”

Na middagete vind sy hom op haar stoep – opgefrommel, bloeiend met ’n gat in die gorrel. Hy is geskiet, maar die koeël het die identifikasie-stafie getref, deur die nek gedring en daar vasgesit.

Die vindingryke en vrygewige veearts kon die kat deurhaal, maar dit kos Camons steeds R3 500.

“Toe die kat oorleef, was ons so opgewonde oor die bewyse. Nou het ons als,” sê sy.

Een is dadelik na die hof toe om met ’n staatsaanklaer te konsulteer. Teleurstelling. Die “bewyse” lewer niks op nie.

Volgens die regsgeleerde kan ’n windbuks-koeël nie forensies getoets word nie, en slegs bewyse van ‘n ooggetuie kan tot vervolging lei.

Selfs die vermeende hardeware-koper kon maklik weens frustrasie van katte-uitsorteer gepraat het, maar dit help nie met vervolging nie.

Die vroue se verbasing is tasbaar: “Ons kon nie glo niks kan wetlik gedoen word nie! Al het ons ‘n verdagte, die katte wat verdwyn het, die beseerde dier, die koeël, die reuse on-koste . . . Na alles, is daar geen vergelding nie.”

Camons is hartseer: “Kan jy nie na jou bure toe gaan en sê as hul diere jou steur nie? Waarom so iets doen? Dit is tragies dat iemand my ‘kinders’ skiet, sonder om my bloot te sê die katte pla. Ek sou planmaak.”

Diere in nood

Kruger praat saam. “Ek is woedend oor die sinnelose misbruik en moord op diere,” sê sy op haar passievolle manier. “Hulle is weerloos en slagoffers wat nie hulself kan verweer nie. Soos in die geval van die katskietery. Ons moet optree.”

Diere is haar hartsaak, en sy is nou betrokke vanweë haar welsprekendheid en sigbaarheid in die gemeenskap.

Sy het die portfolio by die Kouga-munisipaliteit as komiteelid: Stray Animals Ward 11. Net Wyk 11 het die portfolio, maar “hoe sê mens ‘nee’ as iemand uit ‘n ander wyk hulp of kos vir hul diere vra?

“Dit word oorweldigend as die aanvraag bo die werkbeskrywing uitstyg. Elkeen het die verantwoordelikheid om die weerloses te help.”

You need to be Logged In to leave a comment.