KOUGA-inwoners en besoekers kan dié Saterdag keurige gebak en kraakvars produkte by die jaarlikse Jeffreysrus Aftreeoord se basaar verwag.
Die tafels gaan kromtrek onder pannekoek, worsbroodjies, poeding, vars groente, vleis, ontbytrolle en gebak. En wat is ’n basaar nou sonder ’n wit olifanttafel? Tuinliefhebbers kan plantjies koop, en op die naaldwerktafel gaan kunstige items pronk.
’n Teetuin sal sitplek bied vir dié met moeë voete en droë kele.
Volgens oordbestuurder Kosie Griesel word die basaar gehou om fondse vir die oord in te samel.
“Ons is ’n nie-winsgewende organisasie en fondse wat deur die basaar geïn word, word regstreeks in die Pasiëntefonds be-taal.
Die fonds word gebruik om inwoners by te staan.
Die basaar begin om 08:00 by die oord op die hoek van Koraal- en Dolly Vardenstraat.
Vir meer inligting, skakel Kosie Griesel by 042 293 2112.