HAAR kop is reg aangeskroef en haar hande staan vir niks verkeerd nie.
Sy is ’n raakvatter-vrou wat elke uitdaging die hoof bied, en nie skroom om in te klim en die spreekwoordelike bul by die horings te pak nie.
So maak Trudie Botes, wat ondanks al haar ander ‘werke’, die naweek die Milkwood Market naby Fountains Mall op Jeffreysbaai met haar nuwe ‘pizza cones’ aangedurf het. ’n Vullende, kaasdruppende smaaksensasie wat in een hand pas – en mense is gaande daaroor.
“Ek is mos nie bang vir werk nie,” antwoord sy vir Christa Myburgh wat haar op sosiale media ’n ystervrou noem.
En dis nie altemit nie. Die ma van 14-jarige Meagan en 11-jarige Victor was lank in die eiendomsmark. Deesdae arbei sy neffens manlief Pierre met wie sy in 2004 getroud is. Hy is die eienaar van M.O.R. Projects wat eiendomme onderhou en regruk – van dak tot vloer. Die familieonderneming het in 2007 tot stand gekom, en lê die klem op puik produkte, gehaltewerk en sterk nasorg.
Hulle het in 2012 van Pretoria na Jeffreysbaai getrek en is al goed ingeburger.
Buiten haar werk by M.O.R., is haar hand duidelik op die stuur van vele projekte.
Draf deur haar mediaprofiel, en jy vind uit hoe veelsydig die nimlike Trudie werklik is. Sy waag haar hand aan ’n wye verskeidenheid projekte.
Sy vang oomblikke vas in tyd en sterk kleur met haar kamera. En die klinkreël, ‘every picture tells a story’, onderskryf die hart en omgee van haar onderneming, Trudie Botes Photography.
Avon by TrudieB skets duidelik dat skoonheid en versorging nie agterweë bly nie. Trudie werskaf om gehalteprodukte te verskaf en ook werkgeleenthede aan bemarkers te voorsien.
Weer met die kosse!
Haar gebak sluit in beskuit met sade, bessies of karringmelk. Jy moet net kies en die bestelling plaas.
“Dis ’n rowwe tyd vir sakeondernemings. En mens moet wyd kyk en doen om kop bo water te hou,” sê sy.
Daarom is daar nie stilsit vir die bedrywige vrou nie – en inwoners met ’n pizza-liefde is te dankbaar daarvoor.
Skakel Trudie by 078 005 6459 of stuur ’n epos na botes.trudie@yahoo.com.