HUMANSDORP – Op net 17-jarige ouderdom is Nadelean Leeuwskieter, ’n inwoner van Mooi Uitsig in Humansdorp, reeds besig om haar naam met trots in die wêreld van vrouerugby te vestig.
Hierdie jong matrikulant van Humansdorp Senior Sekondêre Skool (HSS) bewys dat deursettingsvermoë, harde werk en geloof in jouself enige droom moontlik kan maak.
Nadelean, of “Kleintjie” soos haar spanmaats haar ken, het haar hoërskoolloopbaan reeds op 13-jarige ouderdom by HSS begin waar sy onmiddelik begin rugby speel het.
Haar natuurlike talent en vasberadenheid het veroorsaak dat sy reeds in dieselfde jaar opgeneem is in die Oos-Provinsie (OP) o.16 meisiesrugbyspan, ’n prestasie wat min spelers op so ’n jong ouderdom bereik.

Sy het haar plek in dié span vir drie opeenvolgende jare behou.
Haar uitstaande prestasies op en van die veld is beloon toe sy in 2024 en 2025 aangewys is as Sportvrou van die Jaar by HSS, ’n bewys van haar konsekwentheid, leierskap en toewyding.
In 2025 het Nadelean nog ’n mylpaal bereik toe sy gekies is vir die OP o.18 meisiesrugbyspan, asook vir die SA Rugby Girls Development Squad.
Tydens die OP o.18 Youth Week-toernooi het sy weereens uitgestaan, wat daartoe gelei het dat sy opgeneem is in die SA o.18 Vroue Springbokspan,’n droom wat vir baie jong spelers onbereikbaar bly.
Wat Nadelean se storie egter nóg meer inspirerend maak, is haar lewenspad buite die rugbyveld.
Sy is deur ’n enkelouer grootgemaak en het ten spyte van uitdagende omstandighede met vasberadenheid en dissipline gematrikuleer met ’n B-simbool wat haar toelating tot Universiteit gee.
Haar akademiese en sportiewe sukses getuig van ’n jong vrou wat nie deur haar omstandighede gedefinieer word nie, maar deur haar karakter.
Nadelean is tans aanvaar by Nelson Mandela Universiteit (NMU) en koester groot drome om haar rugbyloopbaan tot nog hoër hoogtes te neem.






