JEUGDAG, afdag . . . Maar vir ’n jongman met ’n passie vir geregtigheid was dit ’n lang dag toe hy op Dinsdag van 10:00 met ’n plakkaat op ’n besige straathoek in Jeffreysbaai teen verkragting protes aangeteken het.
Rudy Junior Goliath (20) het vroeër die oggend ervaar dat die Here dit op sy hart druk om met die bepaalde boodskap by die vierrigting-stopstraat te gaan staan.
Suzanne Kruger het gestop en met hom gesels waar hy op die hoek van Nautilus en St Francis-strate oorkant Caltex met ’n groot plakkaat gestaan het. Yslike letters sê “STOP RAPING OUR WOMEN”.
Rudy sê aan haar: “Niemand sê niks oor dié goed wat gedoen word nie. Dit word al as die norm aanvaar.” En dit is onaanvaarbaar.
’n Man daarnaby het bygevoeg dat drank spesifiek huismoles bring.
As geliefde dierebeskermer en mensontfermer, het Kruger op sosiale media almal aangemoedig om die jongman wat nuut op die dorp is, met sy saak te ondersteun.
Naylene van Zuydam het gevra dat be- stuurders hul motortoeters “gooi” waar Rudy “op sy afdag vir ons vrouens staan.”
’n Magdom lesers het so gemaak, en verskeie mense het vir hom iets te ete gebring – iets klein om dankie te sê vir die positiewe wat hy doen.
Goliath bedank almal op sosiale media vir die liefde en onderstening. “Ek waardeer elkeen, al was daar enkele swak opmerkings en mense wat nie tevrede was dat ek op die straathoek met my plakkaat staan nie.”
Hy gee eer en loof God in sy boodskap.