Marthinus Colesky en sy judo-maat van 40 jaar, Jannie van der Merwe, tydens die Judo Statebondspele wat in Gqeberha plaasgevind het. Colesky tree nou uit en gaan hom toespits op afrigting.

Foto: Verskaf

Die Suid-Afrikaanse Judo-gemeenskap het naam gemaak met die professionele manier waarop die Judo Statebondspele onlangs in Gqeberha afgeloop het.

“Ons het gelukwense ontvang van die president van die Judo Federasie wat gesê het dit was die mees professionele spele nóg”, sê Paul Nothnagel, SA Judo se sportdirekteur.

Die room van tien lande se judo deelnemers was van 2 tot 6 Augustus in die Veremarksentrum in Gqeberha in aksie in verskillende kategorieë. Altesaam 230 deelnemers het hul slag op die mat gewys.

“Suid-Afrika het uitgeblink teen die ander lande en talle medaljes ingepalm. Die veteraan David Stokigt van Johannesburg het goud verower,” sê Nothnagel.

Plaaslike held tree uit

Marthinus Colesky (52), boer en jarelange judo-afrigter van Patensie, het presteer is sy afdeling van onder 100 kilogram. Hy het met ’n silwer medalje weggestap.

“Ek gaan nou bietjie my judo- pak ophang en my meestal toespits op afrigting. Na 40 jaar se mededingende judo is dit tyd om op te hou,” sê Colesky.

Hy het ook groot sukses behaal met die jong kannetjies wat hy afrig, en van die oueres het al internasionaal deelgeneem en presteer.

“Die jong outjies van in die twintigs hou daarvan om teen my te baklei, en hulle hou nie terug nie. Dit help my weer om spoed te hou. Hulle put uit my ervaring en ek kan vir hulle tegnieke leer,” vertel Colesky entoesiasties.

“Die sport is baie goed vir dissipline, gesondheid en om jou massa stabiel te hou.”

Afrig

Marthinus Colesky, wat natuurlik ’n swart belt het in judo, rig al 26 jaar lank dié sport af by die Patensie Judo-klub. “Daar is op die oomblik 33 seuns en dogters. Ons het al baie nasionale medaljes vir die klub gewen,” vertel hy trots.

“As oud-onderwyser is dit vir my regtig baie lekker om met die kinders te werk en hulle af te rig. Een van die kinders wat ek al afrig vandat hy vyf jaar oud was, Jac Pasques (25), het verlede jaar aan die Kurash wêreldkampioenskappe deelgeneem in Indië. Hy het vroeër ’n brons medalje gekry by die Afrika kampioenskappe. Dit maak my baie trots om te dink ’n outjie van die platteland kon so ver kom!”

Prestasies

Colesky het al aan meer as twintig Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem, en was deel van die span wat sesde gekom het by die Amerikaanse Ope in 1997. Colesky neem ook deel aan die sport Kurash, en het ook hierin aan nasionale kampioenskappe en die Afrika Spele deelgeneem.

You need to be Logged In to leave a comment.