Kareedouw, geleë tussen die Tsitsikamma- en Suuranysberg, is Sondag op kykNET as die joernaalprogram, Kwêla, se Dorp van die Jaar aangewys. Wilna Moolman en Francois was die dryfkrag agter Kareedouw se veldtog. foto:MONIQUE BASSON

KAREEDOUW roem met ’n spogtitel.

Dié dorp tussen die Tsitsikamma- en Suuranysberg is Sondag op kykNET as die joernaalprogram, Kwêla, se Dorp van die Jaar aangewys.

Die titel word toegeken aan die dorp wat die meeste SMS-stemme in die laaste stemweek van die kompetisie gekry het.

Wilna Moolman, een van die dorpverteenwoordigers en dryfkrag agter Kareedouw se veldtog saam met Francois Strydom, sê sy het amper haar “geloof weggeskrik” toe Kareedouw as wenner aangekondig is. “Ek kan dit vir niemand beskryf nie; dit is ’n ongelooflike lekker gevoel om te weet so ’n klein dorpie het só saamgestaan en net gestem en gestem en gestem.

“’Almal met wortels in Kareedouw het ingespring: jongmense van oorsee het geld gestuur vir lugtyd, asook plaaslike besighede en boere. Vriende van die stede het gesê ons stem Kareedouw’.”

Wilna Moolman en Francois Strydom (middel) van dié dorp hou die wentjek was. Karen Meiring (Kanaalhoof: kykNET), Hannes van Wyk (Kwêla-aanbieder), Christo Valentyn (bemarkingsbestuurder: KIA) en Loren Greyling (toesighoudende vervaardiger: kykNET) wens hulle geluk. Foto: VERSKAF

Volgens Strydom is die grootste bate van die dorp sy mense.

“Kareedouw is ’n mense-mense-plek met ’n fantastiese klimaat, van die beste boerewors, unieke heuningbier, ’n historiese kerk, die oudste dranklisensie in die land en talle geleenthede vir inwoners en toeriste,” sê hy.

“En die ligging is perfek: Karee-douw is slegs 8km van die N2, net meer as 30 minute se ry van Jeffreysbaai en ongeveer 60 minute van Plettenbergbaai.

“Ons het goeie dokters en winkels. Vir mense met kinders het ons ’n goeie skool. Alles is hier, saam met die rustigheid. Ons kan regtig nog spog met ’n groot veiligheidsfaktor en het nie ’n geskiedenis van geweld nie.”

“Boonop het ons met twee vryvloeiende waterbronne.”

Die ander twee dorpe in die top drie is Swellendam in die Wes-Kaap (tweede) en Port Edward in KwaZulu-Natal (derde).

Swakopmund in Namibië was verlede jaar se wenner, terwyl Jeffreysbaai in 2018 met die wentitel wegge-stap het.

As die wenner kry Kareedouw uitsendingstyd ter waarde van R1 miljoen om die dorp te bemark. Die dorp wen ook die Kia-makietie wat gehou sal word sodra openbare byeenkomste weer toegelaat word.

Strydom lag: “Ons wil só makietie dat die kerkraad na die tyd bymekaar geroep word om oor die sondes van die dorp te besin

You need to be Logged In to leave a comment.