Kernkragsentrale: Thyspunt opnuut as ligging oorweeg

DIE proses om te bepaal of Thys-punt ’n geskikte ligging vir ’n kernkragsentrale is, is steeds aan die gang.


DIE proses om te bepaal of Thys-punt ’n geskikte ligging vir ’n kernkragsentrale is, is steeds aan die gang.

Drukgroepe wat hierteen gekant is, was verheug toe die departement van omgewingsake in Oktober 2017 goedkeuring gegee het dat die volgende kernkragsentrale in Suid-Afrika by Duynefontein langs die Koeberg-kernkragsentrale gebou gaan word.

Daar is destyds berig dat dié aankondiging ’n verrassing was omdat die Thyspunt-perseel naby St. Francisbaai Eskom se voorkeurperseel is.

Die Nasionale Kernreguleerder (NKR) het onlangs weer advertensies en kennisgewings uitgestuur vir ’n openbare deelnameproses rakende die Thyspunt-perseel.

Gino Moonsamy, woordvoerder van die NKR, het by navraag gesê dié openbare deelnameproses is nie deel van ’n nuwe proses nie, maar ’n voortsetting van Eskom se 2016-aansoek vir ’n kernkraginstallasie-lisensie.

Ondanks die departement se aankondiging in 2017 het Eskom nie sy aansoek vir Thyspunt onttrek nie.

“Die proses sal net gestop word indien Eskom die aansoek terugtrek,” sê hy.

Gedurende die eerste openbaredeelnameproses het die NKR belanghebbendes, wat inwoners, sakelui, die plaaslike munisipaliteit en belangegroepe ingesluit het, die geleentheid gebied om hul mening oor die voorgestelde ligging te lug.

Volgens Moonsamy sal die volgende openbare deelnameproses ’n meer gefokusde proses wees en sal dit op die veiligheidskwessies fo-kus.

“Die doel hiervan is om verdere bydraes te ontvang oor veiligheid en om te verseker ons het niks misgekyk nie. Die publiek is welkom om hul mening te lug of selfs akademici te bring om betoë te rig.”

Die vergaderings wat vir September by St. Francis Links en die Humansdorp-stadsaal beplan was, is volgens Moonsamy tot November uitgestel. Nuwe datums vir die vergaderings sal binnekort bekend gemaak word.

“Dié lisensie-aansoek is nie vir konstruksie nie, die lisensie is slegs om te bepaal of die perseel vir kernkrag geskik is,” voeg hy by.

Horatio Hendricks, burgemeester van die Kouga-munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit is nie in beginsel teen die ontwikkeling gekant nie.

Eskom het nie op navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.